Aardbol

'n Hemelbol in die uitstalling van die Museum van Europese Kulture in Berlyn, Duitsland

Aard- en hemelbolle is sferiese modelle van onderskeidelik die Aarde of die selestiale sfeer, en soortgelyke modelle kan van etlike ander selestiale liggame gemaak word. Hierdie bolle vervul dieselde doel as kaarte, maar hulle verskil van kaarte deurdat hulle die voorgestelde fisiese of abstrakte oppervlak slegs afskaal, en nie tot 'n tweedimensionale oppervlak verwring nie. 'n Aarbol kan ook 'n terrestriële globe genoem word, en 'n hemelbol 'n selestiale globe.

'n Bol vertoon die oppervlak-kenmerke van die onderwerp wat dit uitbeeld. 'n Terrestriële globe toon die opvallendste landmassas en waterliggame daarvan. Dit kan lande en die groter stede aandui, wat oorspan word deur die netwerk van lengte- en breedtegrade. Sommige het opgehewe reliëf om berge en ander landvorme aan te dui. 'n Selestiale globe toon die opvallendste sterre, en kan ook die posisies van ander beduidende astronomiese objekte aandui. Tipies sal dit ook die selestiale sfeer in sterrebeelde onderverdeel.

Die woord globe kom van die Latynse woord globus, wat "sfeer" beteken. Globes het 'n lang geskiedenis. Die vroegste vermelding van 'n globe is dié van Strabo waar hy die globe van Krates beskryf wat na om en by die jaar 150 v.C. dateer word. Die oudste behoue terrestriële globe is die Erdapfel wat in 1492 deur Martin Behaim gesmee is. Die oudste behoue selestiale globe rus op die Farnese Atlas, en dateer uit die tweede eeuse Romeinse Ryk.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search