Afsettingsgesteente

Middel-Trias-gesteentes van sliksteen (onder) en kalksteen (bo) in Utah, VSA.

Afsettingsgesteentes of sedimentêre gesteentes is soorte rots wat gevorm is deur die afsetting van materiaal op die aarde se oppervlak en in water. Afsetting is die term wat gebruik word vir prosesse wat minerale en/of organiese deeltjies (detritus) laat vergader of minerale laat neerslaan uit ’n oplossing. Deeltjies wat ’n afsettingsgesteente vorm deur te versamel word sediment genoem. Dit word eers gevorm deur verwering en erosie op die plek van oorsprong en dan na die plek van afsetting vervoer deur water, wind, ys of gletsers.

Die bestudering van afsettings- en ander gesteentes is noodsaaklik om siviele werk, soos dié bergtonnel, suksesvol te doen.

Afsettingsgesteentes maak maar sowat 8% uit van die volume van die aardkors.[1] Dit is net ’n dun laag oor ’n kors wat hoofsaaklik uit stollings- en metamorfe gesteentes bestaan. Afsettingsgesteentes word afgeset in lae as strata, in dit vorm strukture bekend as lae. Die bestudering van die gesteentes verskaf inligting oor die oppervlak wat belangrik is in siviele ingenieurswese, byvoorbeeld vir die bou van paaie, huise, tonnels, kanale, ens.

Dit is ook die hoofbron van inligting oor die geskiedenis van die aarde, insluitende paleogeografie, paleoklimatologie en evolusie.

  1. Buchner & Grapes (2011), p. 24

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search