Aktuaris

'n Bladsy met aktuariële berekeninge

'n Aktuaris is 'n persoon wie se werk-, studie- of navorsingsveld aktuariële wetenskap is. Aktuarisse behoort gewoonlik aan 'n professie en werk met finansiële risiko's om besluitneming, in die lig van moontlike toekomsgebeure en hul gepaardgaande waarskynlikhede, te bestuur.

Alhoewel die studieveld van aktuariële wetenskap meestal beperk is tot die tradisionele velde van versekering, beleggings, pensioene en gesondheidsorg, het dié professie oor die afgelope paar jaar 'n gedaanteverwisseling ondergaan. Vandag funksioneer baie aktuarisse in veelvoudige en dinamiese rolle, byvoorbeeld as tegniese bemarkers, as analiste in die bankwese en selfs in nuwe ontluikende velde soos informasie tegnologie en groot data.

Die rol van die aktuaris hang af van die spesifieke bedryf, asook die departement, waarin hy of sy werk. In 'n gesondheidsorgarena, byvoorbeeld kan 'n aktuaris hom- of haarself in enige van die volgende areas bevind: marknavorsing, produkontwikkeling, die bepaling van premies, bemarking, opleiding en die ontwikkeling van literatuur, verkope, die onderskrywing van produkte, die hantering van eise, asook die berekening van reserwes om toekomstige eise te betaal. Die voorafgaande staan bekend as die produksiklus en vereis die nodige kwantifisering en ontleding van die onderskeie risiko's tydens elkeen van hierdie stappe. Hierdie werksareas oorvleuel dikwels en verlang gevolglik 'n breë stel vaardigehde.

Aktuarisse is bekend vir hul sterk rekenvaardighede wat in die meeste regsgebiede, onder andere Suid-Afrika, ondersteun en versterk word deur 'n reeks straf eksamens wat voltooi moet word alvorens hul as aktuarisse kan praktiseer. Aktuarisse is verder ook verplig om gereeld Deurlopende Professionele Ontwikkeling-sessies by te woon om sodoende hul vaardighede uit te brei en om op hoogte van sake te bly. Aktuarisse moet goed en deursigtig kan kommunikeer, ten alle tye objektief optree en die belange van alle betrokke partye opweeg en evalueer, beide in die kort- en langtermyn.

Die woord aktuaris moet nie met aktuarius verwar word nie. 'n Aktuarius is 'n lid van die moderatuur van 'n kerk wat oor kerkregtelike sake geraadpleeg word. Beide die woorde kom van die Latyn actuarius, waarvan die stam, actum, openbare transaksie, register, beteken.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search