Grondbesoedeling

Grondbesoedeling veroorsaak deur die ondergrondse berging van tenks wat teer bevat.

Grondbesoedeling kom voor as die grondoppervlak of grondwater besoedel word deur stowwe wat nie in hulle natuurlike vorm daar voorkom nie. Grondbesoedeling lei tot die afbreek of totale vernietiging van die ekosisteem wat lewe op aarde onderhou.

Die besoedeling van grond skep geweldige probleme wat drinkwater betref omdat feitlik alle besoedelingstowwe vroeër of later in reën of smeltwater na die grondwater gevoer word. Grondwater is die belangrikste bron van drinkwater. Besoedeling kan veroorsaak dat grond onvrugbaar word indien die organismes wat vir humusvorming en stikstofbinding verantwoordelik is, aangetas word. Die belangrikste besoedelingstowwe is aardolieprodukte, plastiek, bestrydingsmiddels. swaar metale en moeilik verwerkbare stowwe in chemiese afval.

Nie alle stowwe wat in die grond verwerk word, veroorsaak besoedeling nie. Klein hoeveelhede organiese afval is selfs noodsaaklik vir humusvorming, wat die vrugbaarheid van grond in stand hou. In die laaste dekades het die hoeveelheid afval egter so toegeneem en het die samestelling daarvan so ingrypend verander met die toevoeging van plastiek en giftige stowwe dat die afval nie meer in vrugbare humus omgesit kan word nie. Die afvalstowwe wat nie verwerk word nie, vergiftig die grondorganismes.

Die gevolg is dat die hoeveelheid hoër plante wat in die grond groei, sterk kan afneem. Dit kan die opbrengste vir die landbou verminder en ernstige skade aan natuur- en ontspanningsgebiede aanrig. Wanneer die boonste lae van die grond besoedel is, word die meeste skadelike stowwe deur reën- of smeltwater na die grondwater afgevoer. Baie sandgrondsoorte is so deurlaatbaar (poreus) dat die skadelike stowwe na die grondwater afgevoer word voor dit die organismes kan aantas. Dit is in werklikheid skadeliker as wat dit klink, omdat grondwater die belangrikste grondstof vir die bereiding van drinkwater is.

Daarom is dit gevaarlik om, soos dikwels die geval is, verlate sandslote as stortterreine te gebruik. Grondwater dreineer in baie gevalle na die oppervlakwater van plasse, slote en riviere. Grondbesoedeling kan dus via oppervlakwater besoedeling van grondwater veroorsaak. Huishoudelike afval, motorafval, landbou-afval en nywerheidsafval is die belangrikste bronne van grandbesoedeling. Miljoene tonne huishoudelike afval word jaarliks op vullishope in die wêreld se stede gestort.

Landbou-afval bestaan uit bemestingsoorskotte en bestrydingsmiddels van die bio-nywerheid. Kunsmis word ook dikwels oordadig gebruik en hou ʼn bedreiging in vir natuurgebiede waarvan die waarde bepaal word deur hul voedselarme grond. Nywerheidsafval is grotendeels moeilik verwerkbaar. Behalwe die groot aantal motorwrakke is motors ook vir besoedeling verantwoordelik deur lood, olie en petrol. Die stowwe wat die gehalte van grond en bodemwater in groot mate aantas, is aardolieprodukte, plastiek, bestrydingsmiddels, swaar metale en chemiese afval.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search