Jaloesie

Jaloesie is 'n verterende afguns, 'n agterdogtige wraaksugtigheid en besitlikheid wat ons ervaar wanneer ons dink ons verhouding, ons status in die lewe, ons vriendskappe of ons besittings word bedreig. Dit is ook wat ons voel wanneer ons dink iemand gaan beter as ons vaar in een of ander wedywering.

Alhoewel jaloesie ’n emosie is wat algemeen ervaar word, word dit baie selde openlik erken of daaroor gepraat. Die persepsie bestaan eerder dat ʼn persoon wat gevoelens van jaloesie sou ervaar, of in ʼn sosiale konteks daarna sou verwys, oor een of ander swakheid of onsekerheid beskik.

Die bekende psigoanalis, Sigmund Freud, het jaloesie egter as universeel beskou, omdat dit volgens hom onvermydelik is. Freud het geglo dat elke mens een of ander tyd in sy lewe jaloesie sal beleef, al is dit net vir ʼn flitsende sekonde. Volgens Freud is dit normaal in die sin dat dit menslik is om jaloesie te beleef wanneer ʼn belangrike verhouding deur ʼn derde party bedreig word. Hy meen dat dit eerder abnormaal is om onder sulke omstandighede nie jaloesie te beleef nie.

Histories gesproke is ʼn sekere mate van jaloesie dus as normaal en passievol beskou. Dit is selfs gesien as ʼn aanduiding of ʼn bevestiging van romantiese liefde. Die aanvang van die seksuele revolusie en die beweging tot gelyke regte vir vroue, het egter ʼn nuwe persepsie van jaloesie tot gevolg gehad. Na hierdie verwikkelinge is begin om die belewenis van jaloesie as ʼn refleksie van ontoereikendheid of onveiligheid te beskou. Dit wil voorkom asof hierdie persepsie veld gewen het en die populêre persepsie van die afgelope paar dekades geword het. Die tipiese situasie waarin jaloesie voorkom, behels altyd drie partye: A sal jaloers wees op C, omdat C die aandag, liefde, aanvaarding of erkenning van B ontvang wat A vir homself begeer. Die jaloesie word beleef as ʼn tipe ongemak; ʼn negatiewe gewaarwording dat ʼn belangrike verhouding deur ʼn derde party bedreig word.

Die mees algemene gevalle waar jaloesie voorkom is in romantiese verhoudings. ʼn Vorm van jaloesie wat oor die jare wye bekendheid verwerf het is die sogenaamde sibbe-jaloesie (“sibling rivalry”). Jaloesie kan egter ook onder vriende, werknemers met dieselfde baas, studente van die dieselfde onderwyser ensovoorts voorkom. Daar bestaan egter altyd ʼn verhoudingsdriehoek by die belewenis van jaloesie.

Jaloesie kan byvoorbeeld voorkom wanneer:

  • ʼn werkskollega deur die werkgewer bevoordeel word
  • ʼn vriend/vriendin meer tyd met ʼn ander persoon spandeer
  • ʼn broer/suster meer aandag of voorregte van die ouers kry
  • ʼn onderwyser of lektor meer aandag of hoër punte aan ʼn klasmaat gee
  • ʼn huweliksmaat in ʼn buite-egtelike verhouding betrokke is

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search