Jerewan

Jerewan
Երևան

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Armenië Armenië
 Koördinate 40°10′N 44°31′O / 40.167°N 44.517°O / 40.167; 44.517
 Stigting 782 v.C.
 Oppervlak:  
 - Totaal 227 vk km
 Hoogte bo seevlak 989 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2017) 1 075 800
 - Bevolkingsdigtheid 4 824/vk km
 Tydsone UTC +4
 - Somertyd UTC +5
 Burgemeester Hayk Marutyan
 Amptelike webwerf yerevan.am

Jerewan (Armeens: Երևան/Jerewan [jɛɾɛˈvɑn] , as amptelike Oos-Armeense naam, of Երեվան volgens die tradisionele spelling, meestal gebruik deur die Wes-Armeense diaspora) is die hoofstad en grootste stad van Armenië met 'n oppervlakte van 227 vierkante kilometer en 'n bevolking van 1 075 800 in 2017. Jerewan is die ekonomiese, kulturele en wetenskaplike sentrum van die land en vorm vanweë sy grootte – meer as 'n derde van die totale Armeense bevolking is hier saamgetrek – 'n eie provinsie.

Jerewan se geskiedenis dateer terug na die 8ste eeu v.C. en die stigting van die Urarteïese vesting Erebuni in 782 v.C., wat van Jerewan een van die oudste stede ter wêreld maak. Die stad spog met talle historiese geboue, beeldhouwerke en fonteine, en sy pragtige argitektuur word deur 'n kleurryke mengsel van materiale – tufsteen, tragiet en basalt in alle skakerings – gekenmerk.

Die stad is ook een van die belangrikste kulturele sentrums ter wêreld. Hier word een van die uitnemendste versamelings historiese manuskripte bewaar: Die Matenaderan-sentrum se unieke versameling van ou handskrifte bevat waardevolle inligting oor die geskiedenis, kultuur en wetenskap van Armenië, die Midde-Ooste, Griekeland en Rome. In 2012 is Jerewan as Unesco se wêreldboekhoofstad benoem.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search