Kinderregte

Gedurende die afgelope dekade is die belangrikheid van die fundamentele regte van kinders toenemend erken, soos vervat in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, die Kinderwet en internasionale instrumente soos die Verenigde Nasies se Konvensie oor die Regte van die Kind en die Afrika-handves oor die Regte en Welsyn van die Kind. Die Grondwet bepaal dat die kind se beste belang oorheersend is in elke aangeleentheid wat die kind raak. Artikel 28, alombekend as die kinderklousule, verleen spesiale beskerming aan kinders onder die ouderdom van 18 jaar. Daarin word ’n reeks regte uiteengesit wat voorsiening maak vir die beskerming van kinders, wat addisioneel is tot die beskerming wat die res van die Menseregtehandves bied.

Afgesien van ʼn paar spesifieke beperkinge wat op die fundamentele regte van kinders geplaas word as gevolg van hulle ouderdom (byvoorbeeld die reg om te stem, wat beperk word tot volwassenes), geniet elke kind dieselfde beskerming as enige volwassene. ʼn Mens kan nie van jou menseregte ontneem word nie, maar dit kan beperk word, omdat ander mense ook regte het wat gerespekteer moet word. Daarom sal ander mense se regte by tye met joune oorvleuel en dit sodoende beperk.

Daar is talle menseregte, soos die reg op ʼn naam; ʼn nasionaliteit; voedsel, klere en ʼn veilige woonplek; om by jou ouers te woon (tensy dit tot jou nadeel strek); om jou opinie te lewer en na geluister te word; onderrig; godsdiens; om versorg en beskerm te word ensovoorts.

Al hierdie regte word in ʼn paar baie belangrike internasionale dokumente vervat, wat spesiaal vir kinders geskryf is. Dié dokumente verduidelik die inhoud van kinders se regte wat ander kinders en volwassenes (insluitende ouers, onderwysers en die regering) moet respekteer en nakom.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search