Ming-graftombes

Keiserlike graftombes van die Ming- en Qing-dinastie*
Unesco-wêrelderfenisterrein

Ligging van Ming-graftombes op 'n kaart (Volksrepubliek China)
Ming-graftombes
Ming-graftombes
Ligging van die Ming- en Qing-graftombes in China
Koördinate: 40°15′12″N 116°13′3″O / 40.25333°N 116.21750°O / 40.25333; 116.21750
Lande Vlag van die Volksrepubliek China Volksrepubliek China
Tipe Kultureel
Kriteria i, ii, iii, iv, vi
Verwysings 1004
Streek Asië-Stille Oseaan
Inskripsiegeskiedenis
Inskripsie 2000  (24ste Sessie)
* Naam soos dit in die Wêrelderfenislys verskyn.
Streek soos deur Unesco geklassifiseer.

Die Ming-graftombes is ’n paar mausoleums wat deur die keisers van die Ming-dinastie van China laat bou is. Die eerste Ming-keiser se tombe is naby sy hoofstad, Nanjing, geleë. Die meeste van die Ming-tombes is egter in ’n groep in Beijing geleë en is saam bekend as die "13 Graftombes van die Ming-dinastie" (Chinees: 明十三陵 Míng Shísān Líng, "Ming- Dertien Mausoleums"). Hulle lê in die voorstedelike Changping-distrik van Beijing, 42 km noordnoordwes van die middestad af. Die ligging van die terrein is deur die derde Ming-keiser, Yongle, gekies volgens die beginsels van feng shui. Ná die bou van die keiserlike paleis (die Verbode Stad) in 1420 het Yongle die ligging van sy tombe gekies en sy eie mausoleum laat bou. Die daaropvolgende keisers het hul tombes in dieselfde vallei laat bou.

Die eerste twee Ming-keisers is nie in Beijing begrawe nie. Hongwu se graf is naby Nanjing; die tweede keiser se bewind is deur Yongle omvergewerp en die ligging van sy tombe is onbekend. Van Yongle af is 13 keisers hier begrawe – die laaste een was Chongzhen, wat op 25 April 1644 selfmoord gepleeg het. Sy mausoleum is veel kleiner as die ander s'n.

Tydens die Ming-bewind was die tombes verbode terrein vir gewone burgers, maar in 1644 het Li Zicheng se leër die tombes geplunder en baie daarvan aan die brand gesteek voordat hy Beijing in April daardie jaar verower het.

In 1725 het Yongzheng van die Qing-dinastie die erflike titel markies aan Zhu Zhiliang, ’n afstammeling van die Ming-dinastie se keiserlike familie, gegee. Hy het ’n salaris van die Qing-regering gekry om rituele by die Ming-tombes uit te voer. Ná Zhu Zhiliang se dood het hy in 1750 die titel markies van Zhu gekry, en die titel is deur 12 geslagte van Ming-afstammelinge oorgedra tot aan die einde van die Qing-dinastie.

Vandag is die Ming-tombes deel van die wêrelderfenisgebied Keiserlike graftombes van die Ming- en Qing-dinastie, wat ook ander terreine naby Beijing en in Nanjing, Hebei, Hubei en Liaoning insluit.

’n Standbeeld uit die Ming-tombes.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search