Pad

Die N1-pad wat deur Midrand loop op pad na Johannesburg toe.
'n Sandpad in Namibië.

'n Pad (of weg) is 'n smal strook land wat twee of meer plekke met mekaar verbind. Paaie word gewoonlik skoongemaak sodat dit maklik is om daaroor te beweeg. So sal die grond gelykgemaak word en bome, bosse en klippe verwyder word. Die oppervlak kan uit grond of gruis bestaan, maar kan ook geteer of met stene uitgelê wees.

Mense het van die vroegste tye paaie gemaak. Die Romeinse paaie en die Inkas se paaie vir koerierdienste is bekende voorbeelde hiervan. Dit was egter makliker en vinniger om riviere ('n waterweg) vir vervoer te gebruik. Tydens die Industriële Revolusie word die spoorweg uitgevind. 'n Spoorweg is 'n spesiale tipe pad vir treine. Paaie word deesdae merendeels gebou vir voertuie met wiele, soos motorvoertuie en trokke.

Die bou van openbare paaie word gewoonlik met belastinggeld gefinansier. Somme paaie het tolhekke, waar mense moet betaal om die pad te kan gebruik.

Padtekens word langs paaie geplaas om plekname, spoedgrense, afstande en ander belangrike inligting aan te dui. Padreëls moet ten alle tye gehoorsaam word om te verseker dat die verkeer vloei en veiligheid gehandhaaf word. Verkeersbeamptes word soms ingespan om te help om die verkeer te reguleer en oortreders vas te vat.

Die moderne asfaltpaaie waaruit die 20e-eeuse padstelsels bestaan, het uit die jagpaaie en militêre paaie van die Oudheid ontwikkel. Gedurende die 20ste eeu is waterweë en spoorweë as belangrikste vervoerwee deur die hedendaagse asfaltpaaie vervang.

By die beplanning van padstelsels word vandag faktore soos verkeersdrukte, die gemiddelde snelheid waarmee voertuie op die pad sal ry, die sinvolste roete, die omgewing en dies meer in aanmerking geneem. Paaie kan verdeel word in nasionale, provinsiale en stedelike paaie, terwyl verdere indelings na gelang van 'n pad se bepaalde funksie gemaak word.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search