Ruhrgebied

Ligging van die Ruhrgebied in Duitsland
'n Kaart van die Ruhrgebied dui stedelike nedersettings met bevolkings van meer as 100 000 aan wat intussen 'n samehangende beboude gebied vorm
'n Agterplaas in die Duisburgse stadsbuurt Marxloh
Die plaaslike mynboubedryf het tans museale waarde. Aan die Zollverein-mynbou- en nywerheidskompleks in Essen is die status van Unesco-wêrelderfenis toegeken

Die Ruhrgebied is die grootste agglomerasie in Duitsland en die vyfde grootste in Europa met 'n oppervlakte van 4 435 km² en 'n bevolking van sowat 5,1 miljoen. Die digbevolkte streek, wat in die sentrale deel van die deelstaat Noordryn-Wesfale geleë is, is na die Ruhr-rivier genoem wat teen die suidelike rand van die Ruhrgebied vloei. Dit bestaan hoofsaaklik uit stedelike nedersettings wat 'n samehangende beboude gebied vorm en hul ontstaan na die Middeleeue kan terugvoer. Hul huidige struktuur dateer uit die nywerheidsomwenteling in die 19de en 20ste eeu toe die gebied tot 'n belangrike sentrum van steenkoolmynbou en swaar nywerhede ontwikkel is.

Saam met sy eweneens digbevolkte omgewing en die agglomerasies langs die Ryn vorm die Ruhrgebied die Metropolregion Rhein-Ruhr, 'n metropolitaanse streek met 'n oppervlakte van sowat 7 000 km² en 'n bevolking van tien miljoen.

Die Ruhrgebied vorm geen amptelike administratiewe gebied nie. So is dit moeilik om sy presiese grense te bepaal. Algemeen word die grense van die Siedlungsverband Ruhrkohlenbezirk, tans Regionalverband Ruhr (RVR), 'n vereniging van stedelike nedersettings in die gebied, as basis gebruik. Die selfregerende stede Bochum, Bottrop, Dortmund, Duisburg, Essen, Gelsenkirchen, Hagen, Hamm, Herne, Mülheim an der Ruhr en Oberhausen maak net soos die administratiewe distrikte Recklinghausen, Unna, Wesel en Ennepe-Ruhr-Kreis deel uit van dié vereniging.

In 2010 het die Ruhrgebied as RUHR.2010 saam met Pécs in Hongarye en Istanboel as kulturele hoofstad van Europa gefungeer.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search