Sikloon

Orkaan Katrina, 'n seldsame Suid-Atlantiese tropiese sikloon, op 26 Maart 2004 uit die Internasionale Ruimtestasie afgeneem.

In meteorologie is 'n sikloon of werwelstorm 'n groot lugmassa wat om 'n sterk kern van lae atmosferiese druk in die rondte draai. Soos van bo af gesien, draai dit in die Suidelike Halfrond kloksgewys (regsom) en in die Noordelike Halfrond antikloksgewys (linksom), die teenoorgestelde as 'n antisikloon.[1][2] Siklone word deur winde gekenmerk wat om 'n laagdruksone na binne spiraal.[3][4]

Die grootste laagdrukstelsels is poolwerwels en ekstratropiese siklone van die grootste skaal (die sinoptiese skaal). Warmkernsiklone soos tropiese en subtropiese siklone val ook binne die sinoptiese skaal.[5] Mesosiklone, tornado's en stofwarrels lê binne die kleiner mesoskaal.[6]

Siklone is ook al waargeneem op ander planete, soos Mars, Jupiter en Neptunus.[7][8] Siklogenese is die proses waarvolgens siklone vorm en in intensiteit toeneem.[9]

Weerfronte merk die grens tussen twee massas lug met verskillende temperature, humiditeite en digthede, en word verbind met die prominentste meteorologiese verskynsels. Sterk kouefronte het gewoonlik nou bande van donderstorms en strawwe weer, en kan soms voorafgegaan word deur buielyne of droë lyne. Sulke fronte vorm wes van die sirkulasiekern en beweeg gewoonlik van wes na oos; warmfronte vorm oos van die sikloonkern en word gewoonlik voorafgegaan deur gestratifiseerde reën en mis. Warmfronte beweeg poolwaarts voor die pad van die sikloon uit. Geokkludeerde fronte vorm laat in die sikloon se lewensiklus naby die kern en omhul dikwels die kern.

In die Atlantiese Oseaan en die oostelike Stille Oseaan (waaronder die Hawaise eilande) word daar na siklone verwys as orkane; in die westelike Stille Oseaan staan hulle bekende as tifone en in die suidelike Stille Oseaan en in die Indiese Oseaan as siklone.[3][4] Laasgenoemde, die generiese term, dek 'n wye verskeidenheid meteorologiese verskynsels, waaronder tropiese siklone, ekstratropiese siklone en tornado's. Dus gebruik weerkundiges "sikloon" selde sonder om dit te spesifiseer.

  1. Glossary of Meteorology (Junie 2000). "Cyclonic circulation". American Meteorological Society. Besoek op 17 September 2008.
  2. Glossary of Meteorology (Junie 2000). "Cyclone". American Meteorological Society. Besoek op 17 September 2008.
  3. 3,0 3,1 BBC Weather Glossary (Julie 2006). "Cyclone". BBC. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Augustus 2006. Besoek op 24 Oktober 2006.
  4. 4,0 4,1 "UCAR Glossary — Cyclone". University Corporation for Atmospheric Research. Besoek op 24 Oktober 2006.
  5. National Hurricane Center (2012). Glossary of NHC terms. Besoek op 2012-08-13.
  6. I. Orlanski (1975). "A rational subdivision of scales for atmospheric processes". Bulletin of the American Meteorological Society. 56 (5): 527–530. Bibcode:1975BAMS...56..527.. doi:10.1175/1520-0477-56.5.527.
  7. David Brand (19 Mei 1999). "Colossal cyclone swirling near Martian north pole is observed by Cornell-led team on Hubble telescope". Cornell University. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Junie 2007. Besoek op 15 Junie 2008.
  8. Samantha Harvey (2 Oktober 2006). "Historic Hurricanes". Nasa. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 April 2008. Besoek op 14 Junie 2008.
  9. Nina A. Zaitseva (2006). "Cyclogenesis". National Snow and Ice Data Center. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 Augustus 2006. Besoek op 4 Desember 2006.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search