Sylt

Sylt
Nasa-Satellietbeeld van Sylt
Nasa-Satellietbeeld van Sylt
Geografie
Ligging Noord-Friesland, Sleeswyk-Holstein, Waddesee
Koördinate 54°55′N 8°20′O / 54.917°N 8.333°O / 54.917; 8.333Koördinate: 54°55′N 8°20′O / 54.917°N 8.333°O / 54.917; 8.333

Oppervlakte 99,14 km²
Hoogste punt Uwe-Düne 52,5 m
Administrasie
Vlag van Duitsland Duitsland
Deelstaat Sleeswyk-Holstein

Hoofstad Sylt
Grootste stad Sylt (13 453)

Demografie
Bevolking 17 713

Bevolkingsgroepe Duitsers, Friese

Sylt (Duitse uitspraak: [zʏlt], Deens: Sild, Fries: Söl) is die grootste van die Noord-Friese eilande met 'n oppervlakte van 99,14 km² en 'n bevolking van byna 17 713. Sylt, wat langs die weskus van die Duitse deelstaat Sleeswyk-Holstein geleë is, is die noordelikste en vierde grootste eiland van Duitsland asook sy grootste Noordsee-eiland. Dit strek oor 'n afstand van 38 kilometer in noord-suidelike rigting langs die Noordseekus. Die eiland staan bekend vir sy stranddorpe Westerland, Kampen en Wenningstedt en sy Wesstrand wat byna 40 kilometer ver strek.

Sylt is aan die onstuimige Noordsee blootgestel, en ondanks die voortdurende stryd van sy bewoners teen die vloedbranders, word gedurende elke swaar stormvloed landverliese aangeteken. Die eiland word sedert 1927 deur die Hindenburgdamm met die vasteland verbind. Sylt het lank reeds tot een van die gewildste vakansiebestemmings in Duitsland ontwikkel – jaarliks bring sowat 850 000 toeriste 'n besoek aan die eiland.[1]

Toerisme is dan ook die vernaamste inkomstebron vir die eilandbewoners nadat visvangs aan belangrikheid afgeneem het. Ook alle ander noemenswaardige bedrywe – oesterteelt, strandstoelvervaardiging, die bottelering van mineraalwater en kunshandewerk – is vertakkings van die toerismebedryf.[2]

  1. "www.sylt.de: Urlaubsmagazin Sylt 2016, bl. 6" (PDF). Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 16 Junie 2016. Besoek op 27 April 2016.
  2. Elisabeth Schnurrer: Sylt · Amrum · Föhr · Helgoland · Hallig Hooge. Hersiene uitgawe. München: ADAC Verlag 2007, bl. 138

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search