Verlamming

Verlamming is 'n algehele of gedeeltelike kragverlies van een of meer spiere en het sy oorsprong in ʼn afwyking van die senuwee- of spierstelsel. 'n Totale verlamming word ʼn paralise genoem, terwyl by parese nog 'n mate van beweging moontlik is.

Om die verlamming van ʼn bepaalde liggaamsdeel aan te dui, word die agtervoegsel –plegie gebruik, byvoorbeeld hemiplegie (verlamming van 'n helfte van die liggaam). Willekeurige, bewuste beweging kom tot stand via 'n ketting van neurone (senuweeselle) wat in die motoriese skors van die grootbrein begin en by die spiere eindig. Elke senuweesel besit 'n selliggaam, ʼn aantal kort uitlopers (dendriete) en gewoonlik een lang uitloper (akson).

Die aksone van die senuweeselle waarvan die selliggame in die motoriese breinskors geleë is (die sentrale motoriese neurone), loop na die motoriese kerns in die breinstam, van waar die senuwee-impuls via die kopsenuwees voortgelei word na die spiere van die kop. Die orige aksone loop as piramidebane na die rugmurg en eindig by die selle in die voorhorings: Die lang uitlopers van hierdie perifere motoriese neurone verlaat die rugmurg via die voorwortel en loop dan in die rugmurgsenuwees na die willekeurige spiere van die liggaam. Naas die piramidale sisteem bestaan daar ook 'n ekstrapiramidale sisteem, wat saam met die kleinharsings betrokke is by die gladde verloop van bewegings.

By 'n verlamming bestaan 'n kragverlies van een of meer willekeurige spiere, waardeur bewegings in geringer mate of glad nie moontlik is nie. Geringer beweeglikheid word parese genoem, terwyl paralise beteken dat beweging glad nie moontlik is nie. Die verlamming kan berus op 'n anatomiese afwyking (organiese verlamming) of kan suiwer funksioneel wees. By funksionele verlamming speel psigiese faktore 'n belangrike rol; dit tree gewoonlik na vore saam met ʼn toestand van histerie of depressie.

'n Organiese verlamming kan in die spierstelsel self ontstaan (miogene verlamming), of dit kan sy oorsaak in die senuweestelsel hê (neurogene verlamming). Miogene verlamming kom onder andere voor by ontsteking, degeneratiewe prosesse (byvoorbeeld spierdistrofie) of biochemiese steurnisse (byvoorbeeld myasthenia gravis) in die spiere. By neurogeniese verlamming word onderskei tussen aandoeninge van die sentrale motoriese neurone en aandoeninge van die perifere motoriese neurone.

Die oorsake van verlamming is nie altyd identifiseerbaar nie. Bloedings, infeksies, swelsels, letsels en vergiftiging moet almal in aanmerking geneem word. Verlamming kan ook intree as onderdeel van een of ander siektebeeld. Afwykings van die ekstrapiramidale stelsel, waarvan Parkinson se siekte die bekendste voorbeeld is, asook afwykings van die kleinbrein lei almal tot bewegingsteurnisse, maar nie tot verlamming nie.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search