Woordeskatuitbreiding

Woordeskat in Afrikaans is die totale aantal woorde in dié taal (HAT, 2013:1401). Volgens Fourie (1970:1) beheer die mens die milieu met ‘n taal. “Die woord is die middel waarin die mens se denke, sy logos, sy beheersing van die wêreld waarin hy lewe, uitreik na gestalte en verwesenliking,” (Fourie, 1970:1). Mense moet dikwels by nuwe omgewings en omstandighede aanpas. Gevolglik word nuwe woorde geskep om hulle te help aanpas. Woorde soos elektrisiteit, duikboot en satelliet en segswyses soos “op iemand se knoppie druk” of “die atmosfeer is elektries gelaai” was vroeër nie algemeen gebruik nie (Fourie, 1970:5).

Woordeskatuitbreiding word in morfologiese konstruksie gemeet en uitgebeeld. ‘n Morfologiese konstruksie bestaan uit komponentstrukture, die wyse van komposisie en die uiteindelike komposisiestruktuur. Dit moet minstens twee of meer morfeme en/of groter uitdrukkings hê om as ‘n morfologiese konstruksie te kwalifiseer (Carstens & Bosman, 2014:175-176).

In die morfologie gebruik ons konstruksieskemas om produktiewe prosesse en grammatikale patrone in taaldata te beskryf – konstruksieskemas is beskrywende hulpmiddels. Reëlmatighede in die data wissel van teorie tot teorie en verskillende teorieë het verskillende reëls. In konstruksiemorfologie en kognitiewe grammatika word die term konstruksieskema egter gebruik (Carstens & Bosman, 2014:177).

Komplekse staan bekend as resulterende komposisiestrukture (Carstens & Bosman, 2014:177). 'n Morfeem is altyd betekenisvol: van konkrete, omskryfbare betekenisse, soos in die geval van hart en hardloop, tot abstrakthede wat slegs grammatikaal betekenisvol is, soos in die geval van die attributiewe -e (Carstens & Bosman, 2014:178).

Komposisiestrukture, waarvan woordeskatuitbreiding bo is, word in 'n sisteem voorgestel wat 'n taksonomie genoem word. ‘n Taksonomie is ‘n sisteem van rangskikking; ‘n klassifikasie, en die beginsels en wette van so ‘n klassifikasie (HAT, 2013:1160). Volgens Carstens en Bosman (2014:189) moet dié komposisiestrukture eerder op ‘n kontinuum as in ‘n taksonomie voorgestel word, weens die vae grense tussen taalverskynsels. Daar is baie maniere om ‘n taal se woordeskat uit te brei, onder meer woordvorming, nuutskepping en wysiging.

Woordvormingsprosesse is egter die grootste nut vir die uitbreiding van Afrikaans. Onder dié sambreelterm val kleiner prosesse soos omskakeling, reduksie, versmelting en kombinasie (Van der Westhuizen, Schutte & Van Huyssteen, 2014:46). Die prosesse van nuutskepping of wysiging staan nie sentraal in die bestudering van ‘n taal nie, maar ‘n mens moet bewus wees van sulke prosesse om uitleg te gee aan moontlike historiese prosesse of om foutiewe analises te voorkom (Carstens & Bosman, 2014:190).


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search