1820-Setlaars

"Die Britse setlaars van 1820 land in Algoabaai", deur Thomas Baines, 1853.

1820-Setlaars is die historiese term vir die sowat 4000 blanke Britse immigrante wie tussen April en Junie 1820 in sestig groepe in Suid-Afrika aangekom het. Die meeste setlaars het in Algoabaai (vandag Gqeberha) aan wal gegaan en is op plase in die distrik Albanie om Grahamstad in die Oos-Kaap gevestig. Soos altyd, was daar uitsonderings. Omtrent 200 immigrante moes onverwags en teësinnig na 'n lang reis vanaf Londen via Cork, Ierland, terugvaar vanaf Simonstad na Saldanha, en is afgelaai en na Clanwilliam ("Jan Dissselsvlei") gekarwei. Weens haglike omstandighede is almal behalwe vyf gesinne (Archer, Stone, e.a.) weer gekollekteer en na die "Oos-Kaap" geneem.[1] Baie Suid-Afrikaanse families is nakomelinge van dié immigrante.[2]

Hulle was nie die eerste Britse immigrante wat na die Kaap gekom het nie, maar dit was die enigste staatsondersteunde skema wat 'n taamlike groot Engelssprekende gemeenskap na 'n bepaalde streek in Suid-Afrika geneem het.[3]

Die setlaars uit Engeland, waaronder ook 'n aantal adellikes, is deur die Britse regering en die koloniale owerhede van die Provinsie van die Kaap die Goeie Hoop aangemoedig om in Suid-Afrika 'n nuwe tuiste te vind, maar in wese was dit 'n poging om die anglofone element van die Suid-Afrikaanse bevolking te versterk en veral die grensgebied van die Oos-Kaap deur middel van 'n groter blanke bevolking teen aanvalle van die Xhosa-stamme te verdedig. Dit was die grootste Britse immigrasiegolf in die geskiedenis van Suid-Afrika.

  1. Stone, H & Stone, J, 2018. Die Stones Van Namakwaland, Pretoria: Bienedell Uitgewers
  2. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
  3. Cameron, Spies: Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika, Kaapstad: Human & Rousseau 1986

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search