Aalwyn

Aalwyn
Klippiesaalwyn, Aloe succotrina
Wetenskaplike klassifikasie e
Domein: Eukaryota
Koninkryk: Plantae
Klade: Tracheofiete
Klade: Angiospermae
Klade: Eensaadlobbiges
Orde: Asparagales
Familie: Asphodelaceae
Subfamilie: Asphodeloideae
Tribus: Aloeae
Genus: Aloe
Carolus Linnaeus
Spesies
Sien Lys van aalwynspesies
Verspreiding van boomaalwyne in Suider-Afrika

Die aalwyn of aalwee (Aloe) is 'n monokotiele, dit wil sê 'n eensaadlobbige vetplant en behoort tot die plantfamilie bekend as die Asphodelaceae (aalwynfamilie). Die Afrikaanse naam is 'n verbastering van die Nederlandse "aloë". Die aalwyn is naverwant aan 'n aantal Suid-Afrikaanse plantgroepe, waaronder die genera Kniphofia (vuurpyle), Haworthia, Gasteria, Asparagus (katbos) en Allium (ui).

Daar is meer as 450 aalwynspesies wat oor Afrika en nabygeleë eilande soos Madagaskar versprei is. Sommige spesies word ook op die Arabiese Skiereiland en eilande in die Atlantiese Oseaan aangetref. Die wetenskaplike spesiename van aalwyne is soms beskrywend (Aloe longistyla - die aalwyn met die lang styl of Aloe candelabrum - die aalwyn met die kandelaarvorm ). Ander name ver­wys na plekke (Aloe branddraaiensis of Aloe transvaalensis), terwyl sommige na bekende plant - kundiges of ander persone ver­noem is (Aloe bainesii of Aloe peglerae). Spesiename word tans nog onder sekere omstandighede verander, en bied op sigself 'n wye studieveld.

Aalwyne het groot, dik, blare wat wissel in kleur van grys tot heldergroen. Die blare het 'n wasagtige tekstuur en is goed aangepas vir die dorre klimaat waarin aalwyne aangetref word. Die klein, buisagtige blomme van die aalwyn is geel, oranje of rooi en groei in digte bloeiwyses.

Buiten die gebruik van aalwyne as dekoratiewe plante, word die plant ook gebruik vir die geneeskragtige eienskappe wat daaraan toegeskryf word. Hierdie plante word ook in rotstekeninge van die San aangetref en word reeds duisende jare lank verbou. Die Egiptiese Ebers-papirus uit ongeveer 1552 v.C. verwys na die aalwyn se medisinale eienskappe en die gebruik daarvan in die balsem van lyke.

Die meeste van Suid-Afrikaanse aalwyne is beskermde plante, dit wil sê dit is 'n oortreding om 'n aalwyn sonder toestemming van die Afdeling Natuurbewaring van die betrokke provinsie en die grondeienaar, uit die veld te verwyder. Selfs wanneer 'n boer natuurlike veld wil omploeg om landerye aan te lê, het hy ook die toestemming van die betrokke owerhede nodig indien daar beskermde plante in die gedrang kom.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search