Anna Boleyn

Anna Boleyn
Koningin-gemaal van Engeland
Latere namaaksel van ’n oorspronklike portret uit omstreeks 1534.
Latere namaaksel van ’n oorspronklike portret uit omstreeks 1534.
Eggenoot Hendrik VIII van Engeland
Tydperk 28 Mei 1533 – 14 Mei 1536
Voorganger Catharina van Aragon
Opvolger Jane Seymour
Huis Huis van Tudor
Kinders Elizabeth I
Gebore Omstreeks 1501–1507
Oorlede 19 Mei 1536
Handtekening

Anna Boleyn (Engels: Anne Boleyn; omstreeks 1501/1507[1]19 Mei 1536) was van 1533 tot 1536 die tweede vrou van Hendrik VIII van Engeland en uit eie reg die Markiesin van Pembroke.[2] Hendrik se huwelik met Anna, en haar daaropvolgende teregstelling, maak haar ’n sleutelfiguur in die politieke en godsdienstige omwentelinge wat tot die hervorming in die Engelse kerk gelei het.

Anna, wat uit die burgerstand gebore is, was die dogter van Thomas Boleyn en sy vrou, Elizabeth, en is in Engeland, Nederland en Frankryk opgevoed. In Februarie/Maart 1526 het Hendrik VIII begin om Anna die hof te maak terwyl hy nog met sy eerste vrou, Catharina van Aragon, getroud was. Sy het egter geweier om toe te gee en sy minnares te word, soos haar suster, Maria. Dit het gou Hendrik se allesoorheersende begeerte geword om van Catharina te skei sodat hy met Anna kon trou. Toe dit duidelik word dat pous Clemens VII nie sy huwelik gaan ontbind nie, was dit die begin van die einde van die Katolieke Kerk in England.

Hendrik en Anna is eindelik op 25 Januarie 1533 getroud. Op 23 Mei 1533 het Thomas Cranmer, die biskop van Kantelberg (Canterbury), Hendrik en Catharina se huwelik nietig verklaar en vyf dae later het hy Hendrik en Anna se huwelik geldig verklaar. Kort daarna het die pous Hendrik en Cranmer geëkskommunikeer. As gevolg hiervan het die eerste breuk tussen die Kerk van Engeland en Rome plaasgevind en die Kerk van Engeland is onder beheer van die koning geplaas. Anna is op 1 Junie 1533 as koningin van Engeland gekroon. Op 7 September het sy die lewe geskenk aan die toekomstige Elizabeth I. Tot Hendrik se frustrasie het sy egter nie vir hom ’n manlike erfgenaam gegee nie. Hy het aanvanklik geglo sy sal eindelik ’n seun hê, maar ná drie moontlike miskrame, teen Maart 1536, het Hendrik Jane Seymour die hof begin gemaak.

Hendrik het in April 1536 ’n ondersoek van hoogverraad teen Anna gelas. Op 2 Mei is sy in hegtenis geneem, in die Londense Tower verhoor en op 15 Mei skuldig bevind. Sy is vier dae later onthoof. Moderne historici beskou die aanklagte teen haar, onder meer van owerspel en bloedskande, as onoortuigend. Ná die kroning van haar dogter as Elizabeth I is Anna se naam in ere herstel.[3]

  1. The Life of Jane Dormer, Duchess of Feria
  2. Ives, pp.158-59, p.388 n32, p.389 n53; Warnicke, p.116
  3. "Review: The Life and Death of Anne Boleyn" (in Engels). Copperfieldreview.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Maart 2012. Besoek op 26 April 2010.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search