Arnold Schoenberg

Arnold Schoenberg
Arnold Schoenberg, Los Angeles, 1948
Agtergrondinligting
Gebore(1874-09-13)13 September 1874
Wene, Oostenryk-Hongarye (nou Oostenryk)
Sterf13 Julie 1951 (op 76)
Los Angeles, Kalifornië (Verenigde State)
GenresKlassiek
Beroep(e)komponis, musiekteoretikus, onderwyser, skrywer en skilder

Arnold Schoenberg of Schönberg (/ˈʃɜːrnbɜːrɡ/; Duits: [ˈʃøːnbɛɐ̯k] (); 13 September 187413 Julie 1951) was 'n Oostenryks-gebore komponis, musiekteoretikus, onderwyser, skrywer en skilder. Hy word algemeen beskou as een van die invloedrykste komponiste van die 20ste eeu. Hy was verbonde aan die ekspressionistiese beweging in die Duitse poësie en kuns en die leier van die Tweede Weense Skool. Met die opkoms van die NSDAP is Schoenberg se werke as verdorwe musiek bestempel aangesien dit modernisties en atonaal was. Hy emigreer in 1933 na die Verenigde State en word 'n Amerikaanse burger in 1941.

Schoenberg se benadering ten opsigte van harmonie en ontwikkeling het baie van die 20ste-eeuse musikale denke help vorm. Baie Europese en Amerikaanse komponiste van minstens drie generasies het sy denke bewustelik uitgebrei, terwyl ander hartstogtelik daarteen gereageer het.

Schoenberg was al vroeg in sy loopbaan bekend daarvoor dat hy die Duitse Romantiese style van Brahms en Wagner gelyktydig uitgebrei het. Later sou sy naam sinoniem wees met die vernuwings in atonaliteit (alhoewel Schoenberg self die term verafsku het) wat die mees polemiese kenmerk van die 20ste-eeuse kunsmusiek sou word. In die twintigerjare het Schoenberg die twaalftoon-tegniek ontwikkel, 'n invloedryke komponeermetode om 'n geordende reeks van die twaalf note in die chromatiese skaal te manipuleer. Hy het ook die term "ontwikkelende variasie" geskep.

Schoenberg was ook 'n invloedryke onderwyser in komposisie; onder sy studente tel Alban Berg, Anton Webern, Hanns Eisler, Egon Wellesz, Nikos Skalkottas, Stefania Turkewich en later John Cage, Lou Harrison, Earl Kim, Robert Gerhard, Leon Kirchner, Dika Newlin en ander prominente musici. Baie van Schoenberg se praktyke, waaronder die formalisering van die komposisiemetode en sy gewoonte om gehore openlik uit te nooi om analities te dink, vind inslag in die avant-garde musikale denke wat dwarsdeur die 20ste eeu geëggo is. Sy dikwels polemiese beskouings van musiekgeskiedenis en estetika was van deurslaggewende belang vir baie belangrike 20-eeuse musiekwetenskaplikes en -kritici, waaronder Theodor W. Adorno, Charles Rosen en Carl Dahlhaus, sowel as die pianiste Artur Schnabel, Rudolf Serkin, Eduard Steuermann en Glenn Gould.

Schoenberg se argivale nalatenskap word in die Arnold Schönberg-sentrum in Wene gehou.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search