Atlas

'n Atlas.

'n Atlas is 'n versameling topografiese kaarte en/of prente. Dit bestaan meestal uit onlangse kaarte, maar kan ook historiese of tematiese kaarte bevat. Dit het gewoonlik 'n kaart van die aarde of van 'n streek op die aarde, maar daar bestaan ook atlasse van ander planete in die sonnestelsel. Atlasse van anatomie bestaan ook en beskryf die menslike liggaam of dié van ander organismes.[1] Atlasse kan egter baie wyd uiteenlopende onderwerpe dek. In The Great Atlas of the Sky is die fokus nie op die aarde nie, maar juis in die teenoorgestelde rigting: die sterre. Hierdie reuse-atlas is byna die mees volledige gids tot planete, sterre en astronomiese voorwerpe wat beskikbaar is.[2] 'n Atlas bevat dikwels bykomende inligting, wat tabelle, grafieke, diagramme of illustrasies kan insluit. Dit kan geografiese kenmerke of politieke grense aandui en ook sosiale, godsdienstige en ekonomiese statistieke vertoon; prente van landsvlae; oseaniese en topografiese kaarte en ook reisstatistieke.

Atlasse word tradisioneel in boekvorm gebind, maar die hedendaagse atlas is in multimediaformaat beskikbaar.  Die Britse Independent het in 2012 'n lys bekend gestel met die wêreld se 10 beste atlasse. Die sesde atlas op hierdie lys is National Geographic se iPad-toepassing. Dit word aangebied in hoë definisie en die detail is vlymskerp. Gebruikers kan van kontinentale vlak af naby genoeg inzoem om hul eie huis te sien.[3]

In 1570 word die eerste moderne atlas in Antwerpen deur Gilles Coppens de Diest uitgegee. Die eerste persoon wat die woord 'atlas' vir 'n versameling kaarte in boekvorm gebruik het was die Vlaming Gerardus Mercator.

Die atlas is vernoem na Atlas, (die draer) die god in die Griekse mitologie wat die aarde op sy skouers dra.

Afrika 1950's
  1. en:Atlas/geography
  2. http://www.independent.co.uk/arts-entertainment/books/features/the-10-best-atlases-7723201.html
  3. http://www.independent.co.uk/arts-entertainment/books/features/the-10-best-atlases-7723201.html

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search