Biologiese ritme

Sommige kenmerke van die menslike sirkadiese biologiese horlosie

Verskeie lewende organismes het gedragspatrone wat met gereelde tussenposes – elke jaar, elke maand, elke dag, of met die getye – herhaal word. Hierdie gedragspatrone gaan byvoorbeeld gepaard met die veranderinge wat met seisoenwisselings kom in die daglengte, die temperatuur en die daaglikse siklus van lig en donker. Bekende voorbeelde van biologiese ritme is die hartslag, asemhaling en senu-impulse. Daarbenewens is daar ook ritmes wat op groter skaal plaasvind en wat dit vir die organisme moontlik maak om hom heeltemal by sy omgewingsverandering aan te pas.

Uit die geskiedenis van die evolusie, blyk dit dat die gereelde wisseling tussen gunstige en ongunstige lewensomstandighede groot druk op alle organismes uitoefen. Dit het daartoe aanleiding gegee dat die organismes hulself geleidelik fisiologies by hierdie ritme in die natuur aangepas het. Baie lewende wesens is as gevolg hiervan daarop voorberei om jaarliks 'n ongunstige periode te wagte te wees en hulself fisiologies daarop in te stel. As hierdie spesifieke tydperk dan uiteindelik aanbreek, is die organismes daartoe in staat om dit te oorleef.

Aan die een kant is daar die mening dat organismes 'n inwendige meganisme het, dikwels ook 'n biologiese horlosie genoem, wat die periodieke skommelinge beheer. Dit staan bekend as endogene ritme. Aan die ander kant word hierdie endogene ritme weer deur uitwendige faktore (eksogene ritme) beïnvloed. Prikkeling van die senustelsel kan byvoorbeeld tot die afskeiding van sekere hormone lei wat op hul beurt die organisme fisiologies kan beïnvloed. Veranderings in die aardmagnetisme speel moontlik ook 'n rol.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search