Boukuns

Die koepel van die Panteon in Rome. Die argitek het hier die driedimensionele organisasie van 'n ruimte beplan, bereken en verwesenlik, maar tegelykertyd ook 'n volmaakte kunswerk van sakrale argitektuur geskep
Die Middeleeuse boumeesters van katedrale het in hul ontwerpe uitdrukking gegee aan die volmaaktheid van God, versinnebeeld deur lig. Gelowiges en waarnemers word na 'n anderwêreldse, transendente sfeer geneem: Sainte-Chapelle, Notre-Dame-de-la-Treille-katedraal in Lille, Frankryk
Die manier, waarop die Golden Gate-brug in sy natuurlike omgewing ingepas is, word deur sommige waarnemers as gepaste moderne boukuns beskryf - van die konstruksie se tegniese ontwerp tot die kleurkeuses
Natuurelemente soos wolke en mis dra by tot die harmoniese naasbestaan van natuurlike omgewing en tegnologiese infrastruktuur
Die wolkekrabber The Shard in Southwark, Londen. Die Italiaanse argitek Renzo Piano se glasfasade-ontwerp weerspieël die kleure, lig en wolke van die hemel oor Londen en bring sodoende konstante verandering en afwisseling vir die waarnemer. Dit gee aan die gebou 'n gevoel van ligtheid[1]

Die term boukuns, wat dikwels as 'n sinoniem van argitektuur gebruik word, omvat in sy nouer betekenis veral die visuele - in die praktyk dikwels die estetiese - element in bouwerk, in teenstelling met die begrip boukunde, wat meer op die tegniek en konstruksie betrekking het. Argitektuur mag sodoende gedefinieer word as 'n ingenieursdissipline waarin die ontwerp, beplanning en verwesenliking van driedimensionele ruimtes en ander strukture 'n sentrale rol speel (so het die term argitektuur in hierdie nouer betekenis ook ingang gevind tot die inligtingstegnologie), terwyl boukuns ook na die subjektiewe estetiese ruimte-ervaring van die waarnemer kan verwys wat nie deur wiskundige reëls beskryf kan word nie.

Die Duitse digter Johann Wolfgang von Goethe (1749–1832) fokus op 'n aspek van argitektuur waardeur hierdie ingenieurswetenskap in die kunssfeer gebring word. Vir hom baseer boukuns op die noukeurige kennis van die boumateriaal, op die bepaalde gebruik waarvoor 'n gebou bestem is, die harmonie van die sintuiglike waarneming daarvan en op die "poësie wat van 'n bouwerk werklik 'n kunswerk maak."[2] Hierdie subjektiewe definisie fokus sterk op historiese, sakrale en klassieke argitektuur as boukuns, sowel as die kreatiwiteit en vernuf van die boumeester.

By die bestudering van die boukuns is daar vroeër feitlik net gelet op die opvallende skeppinge soos kerke en paleise, wat as van groot estetiese belang beskou is en volgens stylperiodes gekategoriseer kan word. Dit is maar eers in die 20ste eeu dat die totale beboude omgewing daarby betrek is.

  1. Royal Academy of Arts: Renzo Piano - The Art of Making Buildings. Besoek op 4 September 2020
  2. Johann Wolfgang von Goethe: Gesamtwerk - Berliner Ausgabe. Boekdeel 19. Berlin: Aufbau-Verlag 1973

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search