Carl Jung

Carl Jung
-6px
Geboortenaam Carl Gustav Jung
Gebore (1875-07-26)26 Julie 1875
Kesswil, Thurgau, Switserland
Oorlede 6 Junie 1961 (op 85)
Küsnacht, Zürich, Switserland
Nasionaliteit Vlag van Switserland Switserland
Vakgebied Psigiatrie, sielkunde, psigoterapie, analitiese sielkunde
Instelling(s) Burghölzli, Switserse Leër (kommissaris in die Eerste Wêreldoorlog)
Alma mater Universiteit van Basel
Ander akademiese adviseur(s) Eugen Bleuler
Bekend vir Analitiese sielkunde, sielkundige tipes, die kollektiewe onbewuste, kompleks, argetipes, anima en animus, sinchronisiteit, skadu, ekstrusie en introversie
Beïnvloed deur Arthur Schopenhauer,[1] Eugen Bleuler, Friedrich Nietzsche,[1] Friedrich Schelling, Immanuel Kant, Johann Wolfgang von Goethe, Karl Robert Eduard von Hartmann, Otto Rank, Rudolf Otto, Sigmund Freud
Invloed op Joseph Campbell, Hermann Hesse, Erich Neumann, Ross Nichols, Alan Watts, Jordan Peterson,[2] Terence McKenna, Gaston Bachelard[3]
Handtekening

Carl Gustav Jung (Duits: [kaʁl ˈjʊŋ]; 26 Julie 18756 Junie 1961), ’n Switserse psigiater en sielkundige, word beskou as een van die grondleggers van die analitiese sielkunde. Hy het dit aanvanklik selfstandig, maar later in samewerking met Sigmund Freud, ontwikkel. Dié twee het veral oor die onbewuste met mekaar verskil. Freud het dit as ’n neweproduk van die bewussyn beskou, terwyl Jung van mening was dat die bewussyn uit die onbewuste afkomstig is. Die onbewuste omvat nie net iemand se persoonlike lewensgeskiedenis nie, maar het ook ’n "laag" wat alle mense met mekaar gemeen het: die kollektiewe onbewuste, waarvan onder meer argetipes of oerbeelde deel vorm. Hoewel verskeie van Jung se idees algemeen aanvaar word, het hy nie soveel invloed soos Freud en ander dieptesielkundiges uitgeoefen nie.

Jung word saam met Freud en Alfred Adler as die grondleggers van die dieptesielkunde beskou. By dieptesielkunde word die belangrikheid van ’n mens se onbewuste “sielslewe” beklemtoon. Dié sielslewe speel nie net ’n belangrike rol by die ontstaan van geestesteurings nie, maar is ook van waarde om die gedrag en belewenisse van gesonde mense te verstaan.

Die begrip onbewuste het nie saam met die eerste dieptesielkundes sy verskyning gemaak nie: Die filosowe Immanuel Kant (1724–1804) en Arthur Schopenhauer het vroeër reeds na die onbewuste en die mag daarvan verwys. Psigiaters kon egter eers daarin slaag om tot die onbewuste deur te dring nadat hipnotiseringstegnieke en -terapieë ontwikkel is. Freud het psigoanalise uit hipnose ontwikkel; hy het egter gemeen dit is nog beter as ’n pasiënt bloot ontspan en vrye teuels aan sy gedagtes gee (vrye assosiasie) sodat onbewuste gedagtes en gevoelens na vore kon kom, as om die onbewuste deur middel van hipnose te bereik.

Jung het ook op ’n ander manier vasgestel hoe belangrik die onbewuste is. Hy het baie in spiritistiese en parapsigologiese verskynsels belang gestel. As student het hy op ’n dag gesien hoe ’n meisie tydens ’n séance in ’n beswyming raak. Dit het hom só geboei dat hy sy proefskrif daaroor geskryf het. Later het hy hom met assosiasieproefnemings besig gehou. Tydens dié ondersoeke het dit vir Jung duidelik geword dat wanneer iemand aarsel om te begin praat nadat hy ’n sekere prikkelwoord gebruik het, dit die gevolg kan wees van ’n pynlike konfrontasie met ’n onbewuste probleem. Jung was, op grond van verdere studies en publikasies op dié gebied, al ’n bekende sielkundige voordat hy in 1907 met Freud in aanraking gekom het.

  1. 1,0 1,1 (en) Polly Young-Eisendrath. The Cambridge Companion To Jung. Cambridge University, 2010. pp. 24–30.
  2. (en) McBride, Jason (25 Januarie 2017). "The Pronoun Warrior". Toronto Life.
  3. (en) Eileen Rizo-Patron, Edward S. Casey, Jason M. Wirth (eds.), Adventures in Phenomenology: Gaston Bachelard, SUNY Press, 2017, bl. 123 n. 11.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search