Catharina van Aragon

Catharina van Aragon
Koningin-gemaal van Engeland

Eggenoot Arthur, Prins van Wallis
Hendrik VIII van Engeland
Tydperk 11 Junie 1509 – 23 Mei 1533
Opvolger Anna Boleyn
Huis Huis van Tudor
Kinders Maria I
Gebore 16 Desember 1485, Madrid
Oorlede 7 Januarie 1536, Cambridgeshire
Handtekening

Catharina van Aragon (Spaans: Catalina de Aragón, Engels: Catherine of Aragon; 16 Desember 14857 Januarie 1536), ook bekend as Katherine of Katharine, was die eerste vrou van Hendrik VIII van Engeland en voor dit die vrou van sy oudste broer, Arthur, Prins van Wallis.[1] In 1507 was sy die ambassadeur vir die Spaanse hof in Engeland toe haar pa niemand anders gehad het nie – sy was dus die eerste vroulike ambassadeur in die geskiedenis van Europa.[2] Sy was ook ses maande lank die regent van Engeland terwyl Hendrik in Frankryk was. Sy het opdrag gegee vir die skryf van die omstrede boek The Education of Christian Women deur Juan Luis Vives, wat beweer het vroue het die reg op ’n opvoeding, en dit is aan haar opgedra. Sy het so ’n indruk op mense gemaak dat selfs haar vyand Thomas Cromwell gesê het as sy nie ’n vrou was nie, sou sy alle helde van die geskiedenis opdraand gegee het.[3]

Op driejarige ouderdom is Catharina as vrou belowe aan prins Arthur, die erfgenaam van die Engelse troon. Hulle is in 1501 getroud, maar Arthur het vyf maande later gesterf. Catharina is toe in 1509 getroud met Arthur se jonger broer, wat koning Hendrik VIII geword het. Teen 1525 was Hendrik smoorverlief op sy minnares Anna Boleyn en ontevrede met sy huwelik omdat Catharina nie vir hom ’n seun gegee het nie. Hendrik se opvolger was dus in dié stadium sy dogter, Maria, in ’n tyd toe dit ongehoord was dat ’n vrou die troon bestyg. Hy wou sy huwelik nietig laat verklaar en dit het eindelik gelei tot die breuk tussen Engeland en die Rooms-Katolieke Kerk. Toe pous Clemens VII weier om die huwelik nietig te verklaar, het Hendrik self beheer oor kerksake in Engeland geneem. In 1533 is sy huwelik nietig verklaar deur Thomas Cranmer, die biskop van Kantelberg (Canterbury), sonder om die pous te raadpleeg.

Catharina het geweier om Hendrik te aanvaar as die hoof van die Anglikaanse Kerk en het haarself as Hendrik se wettige vrou beskou tot met haar dood. Sy het die res van haar lewe in Kimbolton-kasteel in Cambridgeshire gewoon en is op 7 Januarie 1536 daar oorlede.

  1. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
  2. The Six Wives of Henry VIII deur Alison Weir. Bl. 59
  3. Eustace Chapuys, Keiserlike ambassadeur, 1533-staatsdokumente, Spaans, IV, ii, 737

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search