Coureur de bois

Coureur de bois – houtsnee deur Arthur Heming

Die Franse term Coureur de bois verwys na die pelshandelaars in die 17de eeuse oostelike Noord-Amerika, wat sonder die vergunning van die Franse owerhede handel gedryf het. Die naam beteken letterlik "woudloper".

Die pelshandel was tydens die 17de eeu 'n winsgewende bedryf in Nieu-Frankryk, wat deur strawwe mededinging gekenmerk is. Baie koloniste het handelsreise na die pays d'en haut ("boland"), die geweste wes en noord van die bewoonde gebied in die omgewing van Montreal onderneem, waar hulle handel kon dryf met inheemse pelsjagters. Die owerhede en koninklike beamptes in Montreal het die coureurs de bois met argwaan bejeën; hulle was nie ten gunste van mense wat die ontwikkelde landbougebiede verlaat het om elders 'n heenkome as handelaars te vind nie en het, wat die vervoer van pelse betref, die voorkeur gegee aan lede van die Eerste Nasies, veral aangesien die onafhanklike en ongekontroleerde koloniale handelaars 'n oorgrote hoeveelheid pelse verskaf het, sodat die mark vinnig versadig geraak het. Die onafhanklike pelshandel het ook Montreal se posisie as pelshandelsentrum ondermyn – gewoonlik het die handelaars hier hulle bewerpelse verkoop en in ruil daarvoor handelsgoedere soos klere, gewere en koperpotte aangekoop. Sommige van die onwettige handelaars het ook 'n probleem geskep deur pelse vir alkohol te ruil.

'n Aantal coureurs de bois het bekendheid verwerf, soos byvoorbeeld Étienne Brulé, Louis Joliet, Médard des Groseilliers, Pierre-Esprit Radisson, Jean Nicolet, Guillaume Couture en Jacques de Noyon.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search