Denver

Denver

Kaart Wapen
Vlag
 Land Verenigde State
 Deelstaat Colorado
 Koördinate 39°45′N 104°54′W / 39.750°N 104.900°W / 39.750; -104.900
 Stigting 22 November 1858
 Oppervlak:  
 - Totaal 401,3 vk km
 Hoogte bo seevlak 1 609 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2006) 575 927
 - Bevolkingsdigtheid 1 405/vk km
 - Metropolitaanse gebied 2 330 146
 Tydsone UTC -7 | Somertyd: UTC -6
 Burgemeester Michael Hancock (D)
 Amptelike Webwerf www.denvergov.org

Denver (amptelik: City and County of Denver) is die hoofstad en grootste stad van die Amerikaanse deelstaat Colorado met 575 927 inwoners in die stad en 2 330 146 in die metropolitaanse gebied van Denver-Boulder-Aurora (2006). Denver lê in die vallei van die South Platte-rivier, wat deel uitmaak van die hoogvlaktes ten ooste van die Suidelike Rotsgebergte.

Die gebied was aanvanklik 'n klein handelspos vir Indiaanse stamme en pelsjagters en is in 1858 as 'n permanente nedersetting met die naam St. Charles gestig. Die naam is later gewysig na Denver City en uiteindelik net Denver. Nadat die buurstad Auraria in 1860 by Denver ingesluit is, het die stad in 1867 die hoofstad van Colorado geword.

Die plaaslike silwermynbou het in die 1870's en 1880's tot vinnige ekonomiese groei in die stad gelei, en ook ná die agteruitgang van die silwerbedryf het die ontdekking van goudvelde 'n langdurige ekonomiese krisis verhoed. Denver is tans 'n belangrike nywerheids-, handel- en vervoersentrum en beskik oor een van die grootste veemarkte in die Verenigde State. In die plaaslike filiaal van die Amerikaanse Munt, wat in 1906 geopen is, word sowat die helfte van die Amerikaanse muntstukke geslaan. Dit beskik ook oor die tweede grootste goudvoorrade in die VSA. Denver het daarnaas tot 'n gewilde skioord ontwikkel.

Denver pronk met die tiende grootste middestadse distrik en het vanweë sy ligging van presies een myl (1 609 meter) bo seevlak die bynaam The Mile-High City gekry. Ander historiese byname soos Queen City of the Plains ("Koningin van die Vlaktes") en The Rail City ("Die Spoorwegstad") verwys na die belangrike rol wat Denver vir die landbou in die streek en as vervoersentrum gespeel het. 'n Aantal skepe van die Amerikaanse Vloot is vernoem na Denver.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search