Duquesne Spioenasiesindikaat

Die 33 veroordeelde lede van die Duquesne Spioenasiesindikaat (FBI-afdruk).

Die Duquesne Spioenasiesindikaat is die grootste spioenasiesaak in die Verenigde State wat op veroordelings uitgeloop het. 'n Totaal van 33 lede van 'n Duitse spioenasienetwerk, onder leiding van Fritz Joubert Duquesne, is veroordeel na 'n langdurige ondersoek deur die Federal Bureau of Investigation. Van die gearresteerdes het 19 skuldig gepleit. Die oorblywende 14 wat onskuldig gepleit het, is op 3 September 1941 voor 'n jurie gedaag in 'n Federale Distrikshof in Brooklyn, New York. Op 31 Desember 1941 is hulle almal skuldig bevind. Die groep is 'n totaal van meer as 300 jaar tronkstraf opgelê.

Die Duitse spioene wat in die sindikaat was, is in sleutelposisies in die Verenigde State geplaas om inligting te bekom wat in 'n oorlog gebruik kon word en om sabotasie te pleeg. Een van die spioene het 'n restaurant oopgemaak en sy posisie daarin gebruik om inligting van sy kliënte te bekom. 'n Ander het by 'n lugredery gewerk sodat hy kan verslag lewer oor geallieerde skepe wat die Atlantiese Oseaan oorgesteek het. Ander in die sindikaat het as bodes gewerk, sodat hulle geheime boodskappe saam met normale pos kon aflewer.

William G. Sebold, wat as 'n Duitse spioen gewerf is, was 'n groot faktor in die FBI se suksesvolle oplossing van die saak deur sy werk as 'n dubbele agent vir die regering van die Verenigde State. Die FBI het vir nagenoeg twee jaar 'n radiostasie vir die sindikaat bedryf en het sodoende inligting opgedoen oor wat Duitsland vir sy spioene in die Verenigde State gestuur het terwyl hulle die inligting wat na Duitsland gestuur is, beheer het. Sebold se sukses as 'n teenspioenasie-agent is gedemonstreer deur die suksesvolle vervolging van die Duitse agente.

Een Duitse spioen het opgemerk dat die sindikaat se vervolging die "doodskoot" vir hulle spioeneerwerk in die Verenigde State was. Die hoof van die FBI, J. Edgar Hoover, het die FBI se sukses met die Duquesne Spioenasiesindikaat die grootste sukses in die geskiedenis van die Verenigde State genoem.[1]

  1. "Obituary. Fritz Joubert Duquesne". Time. 4 Junie 1956. ISSN 0040-781X. http://www.time.com/time/magazine/article/0,9171,867000,00.html Geargiveer 26 November 2010 op Wayback Machine

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search