Engelse nasionale rugbyspan

Engeland
Unie Rugbyvoetbalunie (RFU)
Bynaam(e) Die Rose
Embleem Die rooi roos van die Huis van Lancaster
Stadion Twickenham, Londen
Kapasiteit 82 000
Afrigter(s) Vlag van Engeland Steve Borthwick (sedert 2022)
Kaptein(s) Jamie George
Spankleure


Alt. kleure

Statistiek
Meeste toetse Ben Youngs (127)[1]
Meeste toetspunte Owen Farrell (1 237)[2]
Meeste drieë Rory Underwood (49)[3]
Eerste internasionale wedstryd
(ook die wêreld se eerste)
Vlag van Skotland Skotland 1–0 Engeland Vlag van Engeland
(Edinburg, Skotland; 27 Maart 1871)
Grootste oorwinning
Vlag van Engeland Engeland 134–0 Roemenië Vlag van Roemenië
(Londen, Engeland; 17 November 2001)
Grootste nederlaag
Vlag van Australië Australië 76–0 Engeland Vlag van Engeland
(Brisbane, Australië; 6 Junie 1998)
Wêreldbeker
Verskynings 10/10 (Eerste in 1987)
Beste uitslag Kampioen in 2003
Unie webwerf
www.englandrugby.com

Die Engelse nasionale rugbyspan (Engels: England national rugby union team) is die nasionale rugbyspan wat Engeland tydens internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in Engeland deur die Rugbyvoetbalunie (Rugby Football Union, RFU) geadministreer. Engeland neem jaarliks aan die Sesnasies-toernooi deel, saam met Frankryk, Ierland, Italië, Skotland en Wallis. Engeland het die kampioenskap reeds 29 keer gewen, insluitende 13 Grand Slams, en nog tien ander kere die titel gedeel. Engeland ding as deel van die Sesnasies-toernooi met Skotland om die Calcuttabeker mee, die oudste rugbytrofee.

Engeland se belangrikste internasionale verskyning is tydens die vierjaarlikse rugbywêreldbekertoernooi wat sedert 1987 beslis word. Engeland is genooi om aan die eerste Rugbywêreldbekertoernooi in 1987 deel te neem en het daarna in die eindstryd van die tweede Rugbywêreldbeker in 1991 gespeel waar hulle teen Australië verloor het. Ná die span se 2003-Sesnasies Grand Slam het Engeland die Rugbywêreldbeker 2003 gewen deur Australië met 20–17 in ekstra tyd te klop, tot dusver die eerste span van die Noordelike Halfrond wat dit kon vermag. Daarbenewens is dit ná sokker in 1966 die tweede wêreldbekertrofee in een van Engeland se gewildste sportsoorte wat die onderskeidelike nasionale span ingepalm het; in 2019 sou nog die krieketwêreldbekertitel volg. Hulle het in die eindstryd tydens die Rugbywêreldbeker 2007 as verdedigende kampioen gespeel, maar met 6–15 teen Suid-Afrika verloor; albei spanne het tydens die Rugbywêreldbeker 2019 weer in die eindstryd ontmoet, en Engeland is dié keer deur die Springbokke met 12–32 geklop.

Engeland het sy eerste toetswedstryd in 1871 gespeel, toe hulle op Raeburn Place in Edinburg deur Skotland verslaan is. Aansluitend het Engeland die Tuisuniekampioenskap (Engels: Home Nations Championship, nou die Sesnasies) wat in 1883 ’n aanvang geneem het, gedomineer. Ná die skeuring in rugbyvoetbal in 1895 (veral in Noord-Engeland), wat ook die nasionale span geraak het, het Engeland tot in 1910 nie weer die kampioenskap gewen nie. Engeland het in 1905 vir die eerste keer teen die Nieu-Seelandse All Blacks gespeel, in 1906 teen die Suid-Afrikaanse Springbokke en in 1909 teen die Australiese Wallabies. Engeland is ook een van die lande wat deel uitmaak van die Britse en Ierse Leeus – spelers wat vir Engeland mag speel mag dus ook gekies word vir die Leeus.

Engelse spelers dra tradisioneel wit broeke, vlootblou kouse en wit truie met ’n geborduurde rooi roos – wat aan die Huis van Lancaster ontleen is – daarop. Die span se tuisstadion is Twickenham waar hulle vir die eerste keer in 1910 gespeel het. In 2003 is Engeland deur Wêreldrugby as die “span van die jaar” aangewys. 16 voormalige Engelse rugbyspelers is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem. Engeland is tans (Maart 2024) vyfde op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.[4]

  1. (en) "Most matches". ESPNscrum. Besoek op 18 Maart 2024.
  2. (en) "Most points". ESPNscrum. Besoek op 18 Maart 2024.
  3. (en) "Most tries". ESPNscrum. Besoek op 18 Maart 2024.
  4. (en) "World Rankings". Wêreldrugby. Besoek op 18 Maart 2024.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search