Entomologie

Deel van 'n groot versameling kewers

Entomologie (van Antieke Grieks ἔντομον (entomon) 'insek', en -λογία (-logia) 'studie')[1] is die wetenskaplike studie van insekte, 'n tak van dierkunde. In die verlede was die term insek minder spesifiek, en histories sou die definisie van entomologie ook die studie van diere in ander geleedpotige groepe insluit, soos spinnekopagtiges, duisendpotiges en skaaldiere. Hierdie wyer betekenis kan steeds in informele gebruik aangetref word.

Soos verskeie van die ander velde wat binne dierkunde gekategoriseer word, is entomologie 'n takson-gebaseerde kategorie; enige vorm van wetenskaplike studie waarin daar op insekverwante navrae gefokus word, is per definisie entomologie. Entomologie oorvleuel dus met 'n deursnit van onderwerpe so uiteenlopend soos molekulêre genetika, gedrag, neurowetenskap, biomeganika, biochemie, sistematiek, fisiologie, ontwikkelingsbiologie, ekologie, morfologie en paleontologie.

Meer as 1,3 miljoen insekspesies is beskryf, meer as twee derdes van alle bekende spesies.[2] Sommige insekspesies dateer terug na ongeveer 400 miljoen jaar gelede. Hulle het baie soorte interaksies met mense en ander vorme van lewe op Aarde.

  1. Henry George Liddel and Robert Scott (1980). A Greek-English Lexicon (Abridged uitg.). United Kingdom: Oxford University Press. ISBN 0-19-910207-4.
  2. Chapman, A. D. (2009). Numbers of living species in Australia and the World (2 uitg.). Canberra: Australian Biological Resources Study. pp. 60pp. ISBN 978-0-642-56850-2. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Mei 2009. Besoek op 26 Oktober 2007.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search