Franse nasionale rugbyspan

Frankryk
Unie Franse Rugbyfederasie (FFR)
Bynaam(e) XV de France, Les Tricolores of Les Bleus
Embleem die Galliese hoenderhaan
Stadion Stade de France, Parys
Kapasiteit 81 338
Afrigter(s) Vlag van Frankryk Fabien Galthié (sedert 2020)
Kaptein(s) Grégory Alldritt
Spankleure


Alt. kleure

Statistiek
Meeste toetse Fabien Pelous (118)[1]
Meeste toetspunte Frédéric Michalak (436)[2]
Meeste drieë Serge Blanco (38)[3]
Eerste internasionale wedstryd
Vlag van Frankryk Frankryk 8–38 Nieu-Seeland Vlag van Nieu-Seeland
(Parys, Frankryk; 1 Januarie 1906)
Grootste oorwinning
Vlag van Frankryk Frankryk 96–0 Namibië Vlag van Namibië
(Marseille, Frankryk; 21 September 2023)
Grootste nederlaag
Vlag van Nieu-Seeland Nieu-Seeland 61–10 Frankryk Vlag van Frankryk
(Wellington, Nieu-Seeland; 9 Junie 2007)
Wêreldbeker
Verskynings 10/10 (Eerste in 1987)
Beste uitslag Naaswenner in 1987, 1999 en 2011
Unie webwerf
www.ffr.fr

Die Franse nasionale rugbyspan (Frans: Équipe de France de rugby à XV) is die nasionale rugbyspan wat Frankryk tydens internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in Frankryk deur die Franse Rugbyfederasie (Fédération française de rugby, FFR) geadministreer. Frankryk neem jaarliks aan die Sesnasies-toernooi deel, saam met Engeland, Ierland, Italië, Skotland en Wallis. Frankryk het die kampioenskap reeds 18 keer gewen, insluitende tien Grand Slams, en het nog agt ander kere die titel gedeel.

Frankryk se belangrikste internasionale verskyning is tydens die vierjaarlikse rugbywêreldbekertoernooi wat sedert 1987 beslis word. Sedert die eerste Rugbywêreldbekertoernooi in 1987 het Frankryk by elke toernooi tot die uitklopfase gevorder. Frankryk het die eindstryd drie keer behaal, waar hulle in 1987 en 2011 teen die All Blacks en in 1999 teen Australië verloor het. Frankryk het die Rugbywêreldbeker 2007 aangebied, waar hulle soos in Rugbywêreldbeker 2003 deur Engeland in die halfeindrondte uitgeskakel is. Frankryk het as gasheer van die Rugbywêreldbeker 2023 opgetree. Al is Frankryk telkens een van die gunstelingspanne om die rugbywêreldbeker te verower, het dié eer hulle nog nie te beurt geval nie.

Franse rugby dateer terug na 1872 toe dié sport deur Britse setlaars na Frankryk gebring is. Op Nuwejaarsdag 1906 het Frankryk sy eerste toetswedstryd teen Nieu-Seeland in Parys gespeel. Frankryk het toe sporadies teen die Tuisnasies begin speel, totdat die Franse in 1910 by die Tuisuniekampioenskap aangesluit het om die Vyfnasies (die huidige Sesnasies) te vorm. Frankryk het ook aan die rugbytoernooie van vroeë Olimpiese Somerspele deelgeneem, en die goue medalje in 1900 en twee silwermedaljes in die 1920’s gewen. Die nasionale rugbyspan het in die 1950’s en 1960’s verdere suksesse behaal en die Vyfnasies in 1959 vir die eerste keer gewen. Frankryk het hul eerste Grand Slam in 1968 ingepalm.

Frankryk speel tradisioneel in blou truie met wit broeke en rooi kouse – wat aan die kleure van die vlag van Frankryk ontleen is. Naas hul kortnaam XV de France (XV of quinze verwys na die 15 spelers) dra die span dus die byname les tricolores of les bleus. Die Franse embleem is ’n goue Galliese hoenderhaan op ’n rooi skild. Hul alternatiewe kleure bestaan uit ’n wit trui met donkerblou broeke en kouse. Frankryk se internasionale wedstryde word op verskeie plekke dwarsdeur die land gespeel; die Stade de France in die Paryse voorstad Saint-Denis word tydens die Sesnasies-toernooi gebruik, en Frankryk het ’n indrukwekkende tuisrekord op die Stade Vélodrome in Marseille waar hulle net twee keer verloor het: teen Argentinië in 2004 en Nieu-Seeland in 2009. In 2002 is Frankryk deur Wêreldrugby as die “span van die jaar” aangewys. Twaalf voormalige Franse rugbyspelers is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem. Frankryk is tans (Maart 2024) vierde op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.[4]

  1. (en) "Most matches". ESPNscrum. Besoek op 18 Maart 2024.
  2. (en) "Most points". ESPNscrum. Besoek op 18 Maart 2024.
  3. (en) "Most tries". ESPNscrum. Besoek op 18 Maart 2024.
  4. (en) "World Rankings". Wêreldrugby. Besoek op 18 Maart 2024.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search