Halloween

Jack-o'-Lantern – In Noord-Amerika word uitgeholde pampoene met vreeslike gesigte as deel van die Halloween-feesviering met 'n kers verlig. Hierdie tradisie het sy oorsprong in die Keltiese feesdag Samhain
Halloween in die Withuis, Washington, D.C.

Halloween is 'n fees wat sy oorsprong na bewering in die Keltiese Samhain het – tradisionele feesvieringe wat in Ierland se historiese ooste teen die einde van die somer gehou is. Die fees was gelyktyding 'n oesviering wat die einde van die kalenderjaar en die begin van die wintertyd gemarkeer het. Op hierdie dag, so is beweer, is die wêreld van die lewendes en oorledenes net deur 'n dun sluier van mekaar geskei sodat spoke en demone maklik tussen die twee wêrelde kon beweeg.[1]

Die fees word tans gewoonlik op 31 Oktober, die tradisionele Allerheilige-aand, gevier. Deesdae het die Halloween-fees orals in die Westerse wêreld tot 'n mindere of meerdere mate gewild geraak, al is dit net as deel en afgietsel van die Amerikaanse popkultuur ingevoer.

Die huidige feesviering het sy oorsprong veral in die Verenigde State en Kanada, waar kinders kostuums aantrek en van huis tot huis trek om vir lekkers te vra. Ierse, Skotse en ander immigrante het die tradisie van Halloween saamgeneem na Noord-Amerika.

Die term "Halloween" is afgelei van Hallowe'en, 'n verkorte vorm van All Hallow's Eve (Allerheilige-aand), of die aand voor die Christelike feesdag van Allerheilige, wat sy oorsprong in die heidense tradisies van Noord-Europa het en deur Christelike sendelinge net 'n nuwe, Christelike betekenis gekry het.

In sommige dele van Ierland word Halloween ook die Pooky Night genoem, wat sy etimologiese oorsprong in púca of "bose gees" het.

Die Keltiese Britte en Iere vier in die voor-Christelike tydperk die Dag van die Oorledenes op Allerheilige-dag (1 November). Op hierdie dag, wat Samhain genoem word, het die oorledenes glo uit hulle grafte verrys, en kos is voor die deure neergelê om hulle aan te trek. Om die bose geeste te laat skrik, het die Kelte maskers gedra. Toe die Romeine Brittanje verower, begin hulle die Keltiese tradisie met hulle eie oesfees en verering van die oorledenes vermeng. Hierdie tradisie is eeue later na die Verenigde State en Kanada oorgedra.

Halloween word deur sommige mense met die okkultisme geassosieer, aangesien die nag van Halloween in die heidense kultuur een van die spesiale tye van die jaar is wanneer die wêreld van die geeste in aanraking kom met die wêreld van die lewendes en towery hoogty kan vier.

  1. www.ireland.com: Halloween. Besoek op 31 Oktober 2018

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search