Hengel

Hengel met 'n visstok.
'n Hengelaar spog met sy vangs.

Hengel is 'n metode van visvang met 'n hoek. Die hoek word gewoonlik aan 'n vislyn gebind en die lyn aan 'n visstok vasgemaak. Die visstok is meestal van 'n katrol voorsien wat gebruik word om die vislyn te stoor, uit te gooi en terug te katrol. Kunsaas of lokaas word aan die hoek geplaas vir die visse om aan te byt.

'n Dobbertjie (polisieman) word soms aan die lyn gebind om te sien as 'n vis byt. Wanneer die vis dan wel byt, moet die visstok vinnig en hard opgetel word (ook bekend as "kap" of "slaan"). Met laasgenoemde aksie word die skerp hoek in die vis se lip ingeforseer en daarna begin die hengelaar om die vis "moeg te speel" en hom in te trek wal toe.

Op hierdie stadium is die vis se enigste verweer teen die hengelaar om te hoop die hoek skeur los, of die lyn breek af nadat dit teen skerp onderwaterrotse geskuur het. In menige gevalle is 'n pas-gevange vis selfs deur 'n groter vis opgevreet of verskeur voordat dit aan wal gebring kon word.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search