Ierse nasionale rugbyspan

Ierland
Unie Ierse Rugbyvoetbalunie (IRFU)
Bynaam(e) die XV van die klawer
Embleem Klawerblaar
Stadion Aviva-stadion, Dublin
Kapasiteit 51 700
Afrigter(s) Vlag van Engeland Andy Farrell (sedert 2019)
Kaptein(s) Peter O’Mahony
Spankleure


Alt. kleure

Statistiek
Meeste toetse Brian O’Driscoll (133)[1]
Meeste punte Jonathan Sexton (1 108)[2]
Meeste drieë Brian O’Driscoll (46)[3]
Eerste internasionale wedstryd
Vlag van Engeland Engeland 7–0 Ierland Ierse Rugbyvoetbalunie-vlag
(Londen, Engeland; 15 Februarie 1875)
Grootste oorwinning
Vlag van Verenigde State van Amerika Verenigde State 3–83 Ierland Ierse Rugbyvoetbalunie-vlag
(Manchester, New Hampshire; 10 Junie 2000)
Grootste nederlaag
Vlag van Nieu-Seeland Nieu-Seeland 60–0 Ierland Ierse Rugbyvoetbalunie-vlag
(Hamilton, Nieu-Seeland; 23 Junie 2012)
Wêreldbeker
Verskynings 10/10 (Eerste in 1987)
Beste uitslag Kwarteindrondte in 1987, 1991, 1995, 2003, 2011, 2015, 2019 en 2023
Unie webwerf
www.irishrugby.ie

Die Ierse nasionale rugbyspan (Engels: Ireland national rugby union team; Iers-Gaelies: Foireann rugbaí náisiúnta na hÉireann) is die nasionale rugbyspan wat die hele Ierland (beide die Republiek Ierland en Noord-Ierland) tydens internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in Ierland deur die Ierse Rugbyvoetbalunie (Irish Rugby Football Union, IRFU) geadministreer. Ierland neem jaarliks aan die Sesnasies-toernooi deel, saam met Engeland, Frankryk, Italië, Skotland en Wallis. Ierland is ook een van die lande wat deel uitmaak van die Britse en Ierse Leeus – spelers wat vir Ierland mag speel mag dus ook gekies word vir die Leeus.

Ierland se belangrikste internasionale verskyning is tydens die vierjaarlikse rugbywêreldbekertoernooi wat sedert 1987 beslis word. Sedert die eerste Rugbywêreldbekertoernooi in 1987 het die span aan al tien toernooie deelgeneem en agt keer, behalwe vir 1999 en 2007, tot die kwarteindrondte gevorder. Ierse rugby dateer terug na 1875 toe Ierland deur Engeland in hulle eerste internasionale rugbywedstryd geklop is. Sedert die voorganger van die Vyf- en Sesnasiestoernooi, die Tuisnasies in 1883 begin is, is die span 16 keer as die kampioen gekroon en het nog nege ander kere die titel gedeel. Sedert Italië in 2000 by die kompetisie aangesluit het om die Sesnasies te vorm het Ierland ses titels verower, mees onlangs in 2024.

Ierse spelers dra tradisioneel groen truie, wit broeke en groen kouse. Die span se tuisstadion is Aviva in Dublin waar hulle vir die eerste keer in 2010 gespeel het. Die beheerliggaam Wêreldrugby beskou Ierland as ’n vlak-een rugbyland. Die Ierse rugbyspan is tans (Maart 2024) tweede op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys[4] en in 2018 is die Ierse rugbyspan deur Wêreldrugby as die “span van die jaar” aangewys. Twaalf voormalige Ierse rugbyspelers is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem.

Die Ierse nasionale rugbyspan is in die rugbywêreld uniek, aangesien dit die hele Ierland verteenwoordig en nie net een onafhanklike staat nie. Spelers uit beide die Republiek Ierland en Noord-Ierland, een van die vier lande van die Verenigde Koninkryk, mag vir die Ierse rugbyspan uitdraf. Vervolgens gebruik die Ierse rugbyspan nóg een van die lande se volksliedere, nóg een van hul vlae as ’n verteenwoordigende simbool; pleks daarvan gebruik die Ierse nasionale rugbyspan sy eie vlag – dié van die Ierse Rugbyvoetbalunie – en himne. Alternatiewelik betree die span die veld met beide die vlae van Ierland en Ulster, waartoe die ses Ierse graafskappe in Noord-Ierland behoort. As gevolg van die gemeensame span vir beide die Republiek Ierland en Noord-Ierland word die Ierse nasionale rugbyspan, net soos die soortgelyke Ierse nasionale hokkiespan en die Ierse nasionale krieketspan, as ’n belangrike simbool vir vrede en samewerking op die polities verdeelde eiland Ierland beskou.

  1. (en) "Most matches". ESPNscrum. Besoek op 18 Maart 2024.
  2. (en) "Most points". ESPNscrum. Besoek op 18 Maart 2024.
  3. (en) "Most tries". ESPNscrum. Besoek op 18 Maart 2024.
  4. (en) "World Rankings". Wêreldrugby. Besoek op 18 Maart 2024.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search