Infrarooi (IR, soms genoem infrarooilig of infrarooistraling) is elektromagnetiese straling met langer golflengtes as dié van sigbare lig, maar korter as dié van mikrogolwe. Dit begin by die golwe wat langer is as dié van rooi lig (die langste golwe in die sigbare spektrum) en is dus onsigbaar vir die menslike oog. Hierdie reeks golflengtes stem ooreen met ’n reeks frekwensies van sowat 667 nanometer (449 THz) tot 1 millimeter (300 GHz).[1][2]
IR word gewoonlik verdeel in termiese IR, met langer golflengtes wat deur aardbronne uitgestraal word, en korter IR of naby-IR, deel van die sonspektrum.[3] Feitlik alle swartstraler-straling van voorwerpe naby kamertemperatuur is in die IR-band. As deel van die magnetiese spektrum het IR energie en momentum, oefen dit stralingsdruk uit en het dit eienkappe van beide 'n golf en 'n subatomiese deeltjie, die foton.[4]
Dit was al lank bekend dat vuur onsigbare hitte uitstraal, maar in 1681 het Edme Mariotte getoon dat glas, hoewel sonlig daardeur skyn, stralingshitte blokkeer.[5][6] In 1800 het die sterrekundige sir William Herschel ontdek infrarooistraling is 'n soort onsigbare straling in die spektrum met minder energie as rooi lig, deur middel van die uitwerking daarvan op 'n termometer.[7] Deur Herschel se studie is eindelik bevind net meer as die helfte van die Son se energie bereik die Aarde in die vorm van infrarooistraling. Die balans tussen geabsorbeerde en uitgestraalde infrarooi het ’n uiters belangrike uitwerking op die Aarde se klimaat.
Infrarooistraling word gebruik in nywerheids-, wetenskaplike, militêre, handels- en mediese toepassings. Nagsigtoestelle gebruik aktiewe naby-infrarooi beligting om diere en mense waar te neem sonder dat die waarnemer gesien kan word. Infrarooisterrekunde gebruik teleskope wat met sensors toegerus is om deur stowwerige streke in die ruimte soos molekulêre wolke te sien, om voorwerpe soos planete te bespeur en om voorwerpe met groot rooiverskuiwing uit die vroeë dae van die heelal te sien.[8]
Infrarooikameras vir termiese foto's word gebruik om hitteverlies in geïsoleerde stelsels te bespeur, om veranderde bloedvloei in die vel te sien, om te help met brandbestryding en om oorverhitting van elektriese komponente te bespeur.[9]
Militêre en burgerlike toepassings sluit in nagsig, om missiele hulle teiken te help tref en opsporing. Niemilitêre toepassings sluit in die ontleding van termiese doeltreffendheid, die monitering van die omgewing, die inspeksie van nywerheidsgeriewe, draadlose kommunikasie en weervoorspelling.
© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search