Internasionale eendagwedstryd

'n Internasionale eendagwedstryd tussen Australië en Indië in Melbourne
'n Wit krieketbal, gebruik vir verkorte krieketvorme soos EDIs, T20 en wedstryde wat snags onder spreiligte gespeel word

'n Internasionale eendagwedstryd (Engels: One Day International, afgekort ODI ) is 'n tipe krieketwedstryd waar twee internasionale spanne op een dag 'n beperkte aantal boulbeurte speel (gewoonlik 50 elk). Beide die Kampioenetrofee en die Krieketwêreldbeker word in hierdie formaat gespeel. Die mees onlangse Krieketwêreldbeker 2023 is in Indië aangebied en deur Australië gewen. In Afrikaans word die afkorting EDI (Een Dag Internasionaal) gebruik om na internasionale eendagwedstryde te verwys.

Internasionale eendagwedstryde is in die laat twintigste eeu ontwikkel. Die eerste EDI is op 5 Januarie 1971 tussen Australië en Engeland op die Melbourne-krieketveld beslis. Nadat die eerste drie dae uitgereën het, het wedstrydbeamptes besluit om die toets af te las en eerder 'n eendagwedstryd van 40 agt-bal boulbeurte te speel. Australië het die wedstryd met vyf paaltjies gewen.

Op die oomblik het 20 lande EDI-status en kan daarom aan EDI-wedstryde deelneem. Dit sluit al die lande wat toetskrieket speel in, sowel as lande wat tydelike EDI-status van die Internasionale Krieketraad ontvang het. Die doel van tydelike status is om opkomende krieketlande die geleentheid te gun om teen die toplande mee te ding.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search