Italiaanse nasionale rugbyspan

Italië
Unie Italiaanse Rugbyfederasie (FIR)
Bynaam(e) Gli Azzurri (“die Hemelbloues”)
Embleem Wapen van die Italiaanse Rugbyfederasie
Stadion Stadio Olimpico, Rome
Kapasiteit 70 634
Afrigter(s) Vlag van Argentinië Gonzalo Quesada (sedert 2024)
Kaptein(s) Michele Lamaro
Spankleure


Alt. kleure

Statistiek
Meeste toetse Sergio Parisse (142)[1]
Meeste punte Diego Dominguez (983)[2]
Meeste drieë Marcello Cuttitta (26)[3]
Eerste internasionale wedstryd
Vlag van Spanje Spanje 9–0 Vlag van Italië Italië
(Barcelona, Spanje; 20 Mei 1929)
Grootste oorwinning
Vlag van Tsjeggië Tsjeggië 8–104 Italië Vlag van Italië
(Viadana, Italië; 18 Mei 1994)
Grootste nederlaag
Vlag van Suid-Afrika Suid-Afrika 101–0 Italië Vlag van Italië
(Durban, Suid-Afrika; 19 Junie 1999)
Wêreldbeker
Verskynings 10/10 (Eerste in 1987)
Beste uitslag Twee oorwinnings in 2003, 2007, 2011, 2015, 2019 en 2023
Unie webwerf
www.federugby.it

Die Italiaanse nasionale rugbyspan (Italiaans: Nazionale di rugby a 15 dell’Italia) is die nasionale rugbyspan wat Italië tydens internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Hulle staan ook bekend as gli Azzurri (Italiaans vir: “die Hemelbloues”). Savoiblou is die gewone kleur van die nasionale spanne wat Italië verteenwoordig, aangesien dit die tradisionele kleur van die Huis van Savoje was wat van 1860 tot 1946 oor die Koninkryk Italië regeer het. Rugby word in Italië deur die Italiaanse Rugbyfederasie (Federazione Italiana Rugby, FIR) geadministreer. Italië neem jaarliks aan die Sesnasies-toernooi deel, saam met Engeland, Frankryk, Ierland, Skotland en Wallis.

Italië se eerste toetswedstryd was in 1929 teen Spanje. Italië was net soos Roemenië oor dekades heen een van die sterkste Europese spanne buite die destydse Vyfnasies. Hulle het tydens die Europese Nasiesbeker een titel ingepalm, nege keer as naaswenner en agt keer op die derde plek geëindig. Gedurende die 1990’s het die Italiaanse rugby ’n opswaai beleef, wat tot die aansluiting by die destydse Vyfnasies en hul uitbreiding tot die Sesnasies gelei het. Hulle het die een of ander prestasie behaal, maar nooit beter as die vierde plek gevaar nie.

Italië se belangrikste internasionale verskyning is tydens die vierjaarlikse rugbywêreldbekertoernooi wat sedert 1987 beslis word. Sedert die eerste Rugbywêreldbekertoernooi in 1987 het die span aan al nege toernooie deelgeneem, maar nog nie tot die uitklopfase gevorder nie. Die Italiaanse nasionale span het tot ’n konstante deelnemer ontwikkel. Sedert 2003 het Italië tydens elke toernooi twee oorwinnings en twee nederlae aangeteken, genoeg om outomaties vir die volgende toernooi te kwalifiseer.

Italiaanse spelers dra tradisioneel blou truie, wit broeke en blou kouse. Hul alternatiewe kleure bestaan uit ’n wit trui met blou broeke en wit kouse. Italië se internasionale wedstryde word op verskeie plekke dwarsdeur die land gespeel; die Stadio Olimpico in Rome word tydens die Sesnasies-toernooi gebruik. Die beheerliggaam Wêreldrugby beskou Italië as ’n vlak-een rugbyland. Die Italiaanse rugbyspan is tans (Maart 2024) agtste op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.[4]

  1. (en) "Most matches". ESPNscrum. Besoek op 18 Maart 2024.
  2. (en) "Most points". ESPNscrum. Besoek op 18 Maart 2024.
  3. (en) "Most tries". ESPNscrum. Besoek op 18 Maart 2024.
  4. (en) "World Rankings". Wêreldrugby. Besoek op 18 Maart 2024.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search