Klimaat

Klimaatkaart van die wêreld

Klimaat (van oud-Grieks: κλίμα) is die gemiddelde toestand van die weer oor 'n tydperk van ten minste 30 jaar. In teenstelling hiermee is die weer die toestand van die atmosfeer op 'n gegewe oomblik in tyd.

Die klimaat is die navorsingsveld van klimatologie. Aangesien die weer van dag tot dag sterk kan verander, is die gemiddelde waardes van die weer (soos gemiddelde temperatuur) nie die enige mate vir klimaat nie, en word frekwensieverdelings, ekstreme waardes, modale waardes en standaardafwykings ingespan.

Die klimaat op 'n bepaalde plek op aarde is onderhewig aan die gesamentlike effek wat die weerstoestande op daardie plek het en aan die reëlmaat waarmee die toestande hulle voordoen. Die prosesse in die onderste gedeelte van die atmosfeer onder die invloed van sonenergie speel 'n vername rol in die twee belangrikste klimatologiese faktore, naamlik die heersende temperature en die feit dat daar reën val.

Die temperatuur hang veral af van die hoek waarteen die son se strale op die aarde inval en hou daarom verband met die breedtegraad of die posisie van 'n bepaalde plek ten opsigte van die son. Daar is 'n aantal duidelike klimaatgordels te onderskei (trope, subtrope, gematigde gebiede, poolstreke), wat naastenby ewewydig is met die ewenaar.

Ook binne die gordels kan daar belangrike klimaatverskille voorkom, afhangende van die temperatuur en die neerslag. Omdat hierdie faktore baie belangrik is vir die plantegroei, val klimaattipes dikwels saam met die vegetasiepatroon, iets waarmee daar in die klassifikasiesisteem rekening gehou moet word. Die plantegroei bepaal in belangrike mate die uiterlike van die landskap, waarby die reliëf ook 'n rol het en op sy beurt grootliks bepaal word deur die klimaat.

Hierdie verskynsel is redelik logies te verklaar, aangesien die verwering en erosie van gesteentes afhang van die temperatuur en die beskikbare hoeveelheid water (afkomstig van reën), terwyl daarnaas ook nog die plantbedekking die verloop van hierdie prosesse beïnvloed. Nie alleen bepaal die klimaat in oorwegende mate die landskap nie, maar die teenoorgestelde geld ook: in stedelike gebiede word die klimaat dikwels beïnvloed deur byvoorbeeld groot nywerheidsinstallasies. AI die onderlinge faktore word in die klimatologie ondersoek en dit is 'n wetenskap wat in die vorige eeu vinnig ontwikkel het. Die kennis wat die mens so verkry, is van groot praktiese waarde, onder meer ten opsigte van die landbou, die nywerheid en die vraag na water oor die algemeen.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search