Liverpool

Liverpool

Ligging in Engeland Wapen
Kulturele hoofstad
van Europa in 2008
 Land Vlag van Verenigde Koninkryk Verenigde Koninkryk
 Land (VK) Vlag van Engeland Engeland
 Administratiewe gewes Noordwes-Engeland
 Seremoniële graafskap Merseyside
 Historiese graafskap Lancashire
 Koördinate 53°24′N 2°59′W / 53.400°N 2.983°W / 53.400; -2.983Koördinate: 53°24′N 2°59′W / 53.400°N 2.983°W / 53.400; -2.983
 Stigting 1207
 Stadstatus 1880
 Munisipale regeringsvorm Metropolitan borough, City
 Stadsregering Burgemeester
en Stadsraad van Liverpool
 Burgemeester Joanne Anderson (Lab)
 Lord Mayor Mary Rasmussen
 Oppervlakte:  
 - Totaal 111,8 vk km
 Hoogte bo seevlak 70 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2019-skatting,
Metropolitan borough & City)
498 042
 - Bevolkingsdigtheid 4 424/vk km
 - Stedelike gebied 864 122
 - Metropolitaanse gebied 2 241 000
 Tydsone UTC +0 (MGT)
 - Somertyd UTC +1 (BST)
 Amptelike webwerf liverpool.gov.uk

Liverpool [ˈlɪvəpuːl] is 'n stad en seehawe in die Noordwes-Engelse metropolitaanse graafskap Merseyside aan die oostekant van die Merseyriviermonding en vlakby die Ierse See. Liverpool, wat in die historiese graafskap Lancashire geleë is, het vanaf 1207 die status van 'n borough gehad en in 1880 stadsregte gekry. Met 'n bevolking van byna 500 000 binne die stadsgrense en meer as 2,2 miljoen in die groter metropolitaanse Merseyside-gebied is Liverpool ondanks 'n bevolkingsafname in die laat 20ste eeu steeds een van die grootste agglomerasies in Engeland asook die tweede grootste uitvoerhawe in die Verenigde Koninkryk.

Pier Head vorm die sentrale gedeelte van Liverpool se Waterfront, met drie vroeë 20ste eeuse geboue – die Royal Liver Building, Cunard Building en Port of Liverpool Building – wat as die Three Graces bekendstaan en 'n kenmerkende voorbeeld van Edwardiaanse imperiale optimisme vorm. Die Anglikaanse katedraal is in die agtergrond
Meganisering en die oorskakeling na die moderne houerstelsel het Liverpool se uitgebreide dokgeriewe oorbodig gemaak en duisende dokarbeiders werkloos gelaat. Die foto wys die Albert-dokke wat herontwikkel en tot woonstelle, winkels, museums, kunsgalerye en hotelle omgeskep is

Unesco het in 2004 aan ses kwartiere in die historiese middestad en die dokke van Liverpoolhawe die status van wêrelderfenisgebied toegeken – as Liverpool Maritime Mercantile City (Maritieme Handelsstad Liverpool).[1] In 2021 is dit egter van sy status ontneem.[2]

Liverpool het een van die mooiste liggings van Engeland se groot stede. Die stadsgebied strek oor die oostelike oewer van die breë Merseyrivier waar die terrein saggies styg om 'n bergrug te vorm waarop die hawestad se twee katedrale ontstaan het. Dit vorm 'n halfsirkel waarvan die reguit kant langs die rivier geleë is. Liverpool se boumeesters het voordeel getrek uit die unieke terrein met water en bergrûens en indrukwekkende liggings vir belangrike openbare geboue gekies.[3]

Hoër geleë stadsdele in die ooste bied 'n uitsig wat honderde kilometer ver strek – oor die hele stad en omringende streke, die ope see en die Noord-Walliese berggebiede in die suide. Die landskap van Liverpool is deur die eeue heen deur menslike bedrywighede ingrypend verander. So het die lang reeks skeepsdokke langs die Merseyrivier hul ontstaan aan grootskaalse landaanwinningsprogramme te danke, terwyl die oorspronklike natuurlike hawebekken, wat as Pool bekendgestaan gestaan het, lankal verdwyn nadat dit met sand en klip ingevul en bebou is.

Sandsteen as die belangrikste boumateriaal is vanaf die 18de tot in die vroeë 19de eeu deur groewe naby die middestad voorsien waar dit net onder die aardoppervlak lê en maklik ontgin kan word. Die spoorweglyn na Liverpool se Lime Street-hoofstasie is deur soliede sandsteenrots gesny.[4] Later is stene as boumateriaal vir openbare bouprojekte uit Storeton op die Wirral-skiereiland, Runcorn en Woolton ingevoer, later ook uit verder afgeleë gebiede. Maar reeds vanaf die 18de eeu is sandsteen gaandeweg deur bakstene vervang.

In teenstelling met ander vergelykbare stede in Noord-Engeland en Skotland – soos Newcastle, Manchester en Glasgow – het min van Liverpool se Middeleeuse boukuns bewaar gebly. So dateer die meeste geboue uit die 18de eeu of later periodes. Gedurende Liverpool se ekonomiese bloeitydperk, wat twee eeue lank voortgeduur het, is min aandag geskenk aan historiese boukuns en moes baie geboue plek maak vir nuwe projekte. Selfs in Liverpool se middestad word, behalwe vir een uitsondering, geen gebou uit die tydperk voor die middel van die 18de eeu meer aangetref nie. Ondanks ambisieuse stedelike herontwikkelingsprogramme in die tweede helfte van die 20ste eeu word Liverpool se huidige stadsbeeld deur laat Georgiaanse, Victoriaanse en Edwardiaanse argitektuur oorheers.

Liverpool het veral bekendheid verwerf deur sy sokkerklubs FC Everton en FC Liverpool en sy polsende musieklewe. 'n Plaaslike musiekgroep, die Beatles, het in die 1960's kunstenaars van wêreldfaam geword. Dit was een van die gasheerstede tydens die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1966. In 2008 het Liverpool saam met die Noorse stad Stavanger ook as kulturele hoofstad van Europa gefungeer.

Die inwoners van Liverpool, wat in Engels amptelik Liverpudlians genoem word, staan daarnaas ook as Scousers bekend – 'n verwysing na die plaaslike Engelse dialek, Scouse.

  1. (en) unesco.org: Liverpool – Maritime Mercantile City. Besoek op 3 April 2020
  2. (en) BBC: Liverpool stripped of Unesco World Heritage status. Besoek op 21 Julie 2021
  3. (en) Joseph Sharples: Pevsner Architectural Guides – Liverpool. New Haven & London: Yale University Press 2004, bl. 3
  4. (en) Sharples (2004), bl. 3

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search