Lugvrag

'n Antonof An-124-vragvliegtuig van Volga-Dnepr Airlines, 'n Russiese lugredery wat as wêreldleier op die spesialismark vir superswaar- en buitengewoon groot vrag beskou word, is gereed om gelaai te word
'n Antonof An-124 met oop neuslaaideur op Moskou se Sjeremetjewo-lughawe
'n Amerikaanse reddingsduikboot word as nie-gestandaardiseerde lugvrag vervoer
Standaardisering van lugvrag deur middel van spesiale houers. Die deursnit deur 'n Airbus A300-passasierstraler wys die hoofdek met die passasierskajuit (bo) en die vragruimte met houers wat vir die vliegtuigromp se ronde vorm aangepas is
Deutsches Museum, München
Hulpgoedere is 'n voorbeeld van nie-kommersiële lugvrag waar die tydsfaktor 'n sentrale rol speel. Hier vervoer 'n vragvliegtuig van die Duitse Lugmag kosvoorrade, wat gereed is om as maaltye vir slagoffers van orkaan Katrina bedien te word, na 'n Amerikaanse lugmagbasis.

Die term lugvrag verwys na goedere wat per vliegtuig vervoer word, insluitende lugpos (alhoewel lugrederye reeds so ver gaan om selfs passasiers as "selflaaiende vrag" te beskryf[1][2]). Massagewys beloop lugvrag se aandeel aan alle goedere, wat oor landsgrense heen vervoer word, slegs een persent. Daarenteen verteenwoordig lugvrag volgens waarde 40 persent van die internasionale handelsvolume. In teenstelling met seevervoer bly lugvragvervoer gewoonlik beperk tot kapitaalintensiewe en bederfbare goedere.[3]

In Duitsland, een van die voorste uitvoerlande ter wêreld, het die Federale Duitse Statistiekburo (Statistisches Bundesamt) die gemiddelde waarde van Duitse lugvrag in 2016 as €80 250 per ton gegee - teenoor €1 932 per ton vir seevrag, €1 844 vir padvrag en €1 278 vir spoorvrag.[4]

Lugvrag word gewoonlik per vragvoertuig na lughawens vervoer. Hier dien moderne vraghanteergeriewe as koppelvlak tussen openbare padvervoer en die besonderse veiligheidsones van 'n lughawe. Die hantering van verskillende soorte lugvrag - met afwykende afmetings, massa, vorm en materiaal (wat van luukse motors tot lewende diere en temperatuurgevoelige lewensnoodsaaklike items soos geneesmiddels, bloedplasma en organe vir oorplantings (waarvoor 'n ononderbroke koelketting behou moet word), maar ook die sterflike oorskot van mense kan strek) - onder tydsdruk is 'n logistieke uitdaging vir die betrokke personeel wat hoogs doeltreffende organisasie vereis. Vraghouers en palette moet noukeurig geposisioneer en beveilig word.

Lughawens met hoogs geïntegreerde vraghanteergeriewe toon in die vroeë 21ste eeu die vinnigste groei - soos byvoorbeeld lughawens wat as lugvrag-spilpunte vir groot Amerikaanse ondernemings (FedEx, UPS en BAX Gobal) in die bedryf dien. Na hierdie maatskappye, wat die hele spektrum van wêreldwye vragdienste, insluitende padvervoer, hantering en sortering sowel as afhaal- en afleweringsdienste aanbied, word na as integreerders verwys.

  1. Beyond Philosophy, 8 Augustus 2013: Customers or 'Self-loading Freight'? Besoek op 24 Junie 2020
  2. Peter S. Morrell: Moving Boxes by Air. The Economics of International Air Cargo. London and New York: Routledge 2016, bl. xvii
  3. bpb.de, 3 April 2017: Luftfracht. Besoek op 23 Junie 2020
  4. Bundesverband der deutschen Luftverkehrswirtschaft (BDL): Luftfahrt aktuell 4/2017. Besoek op 24 Junie 2020

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search