Maankalender

’n Spaanse maankalender vir 2017.

’n Maankalender is ’n kalender wat op die maandelikse siklusse van die Maan (sinodiese maand) gebaseer is. In vergelyking hiermee is ’n sonkalender se jaarlikse siklusse regstreeks op die sonjaar geskoei. Die mees algemeen gebruikte kalender, die Gregoriaanse kalender, is ’n sonkalenderstelsel wat uit ’n maankalenderstelsel ontwikkel het. ’n Suiwer maankalender verskil ook van ’n maansonkalender, waarvan die maanmaande met die sonjaar in lyn gebring word deur die een of ander proses van interkalasie (invoeging van dae). Wanneer ’n maand begin, verskil van maankalender tot maankalender: Sommige gebruik die donkermaan en ander die vol- of sekelmaan. Nog ander gebruik gedetailleerde berekenings.

Aangesien elke maansiklus sowat 29+12 dae (29 d 12 h 44 m 3 s, of 29,530588 dae) duur, is dit algemeen dat die maande van ’n maankalender tussen 29 en 30 dae wissel. Omdat die tydperk van 12 sulke maande, ’n maanjaar, net 354,367056 dae is, verloor suiwer maankalenders omtrent 11 dae per jaar met betrekking tot die Gregoriaanse kalender. In suiwer maankalenders wat nie van interkalasie gebruik maak nie, soos die Islamitiese kalender, voltooi die maanmaande ’n kringloop deur al die seisoene van ’n sonjaar oor die loop van ’n siklus van 33 maanjare.

Hoewel die Gregoriaanse kalender wêreldwyd algemeen gebruik word, word tradisionele maan- em maansonkalenders steeds dwarsdeur die Ou Wêreld gebruik om godsdiensfeesdae en nasionale vakansiedae te bepaal. Voorbeelde van sulke dae sluit in Ramadan (Islamitiese kalender); Paasfees; die Japannese, Koreaanse, Viëtnamese, Mongoolse en Chinese Nuwejaar (verskeie kalenders); Diwali (Hindoekalenders); en Roosj Hasjana (Hebreeuse kalender).


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search