Mount Shasta

Mount Shasta
Mount Shasta Mount Shasta
Ligging Kalifornië, Verenigde State
Hoogte 4 322 meter bo seevlak
Reeks Kaskadereeks
Koördinate 41°24′33.11″N 122°11′41.60″W / 41.4091972°N 122.1948889°W / 41.4091972; -122.1948889
Laaste uitbarsting 1786
Eerste bestyging 1854
Eerste bestyger(s) E.D. Pearce
Maklikste roete Rotsklim/sneeu

Mount Shasta is 'n potensieel aktiewe stratovulkaan in Noord-Kalifornië – die tweede hoogste in die Verenigde State – en die tweede hoogste bergpiek in die Kaskade-bergreeks, asook die vyfde hoogste in Kalifornië, op 'n hoogte van 4 322 meter bo seevlak. Die piek is bedek met vyf gletsers, waaronder die Whitney-gletser, die grootste in die deelstaat.

Die vulkaan lê in Siskiyou County en het 'n volume van 450 km³. Mount Shasta is nie met enige ander nabygeleë berg verbind nie en verrys sowat 3 000 meter bo-oor die omliggende vlakte. Dit kan maklik raakgesien word vanaf die meeste plekke in die noorde van Kalifornië.[1]

Mount Shasta, soos gesien vanuit die suide. Die kleiner bergpiek aan die linkerkant is Shastina
Wildeals - 'n struik wat in die Amerikaanse Weste aangetref word (in Engels bekend as sagebrush) - groei in die omgewing van die vulkaan

Die Eerste Nasies van die omgewing, die Klamath en Modoc, het beweer dat die vulkaan, wat vir die laaste keer in 1786 uitgebars het, die "Groot Gees" of gees van die hoof Skell huisves, wat uit die paradys na Mount Shasta gekom het. Setlaars het later alle soorte magiese kragte aan die berg toegeskryf.

Mount Shasta het ook danksy sy majestueuse voorkoms met 'n sneeubedekte spits en pragtige natuurskoon 'n soort spirituele en esoteriese sentrum in Noord-Kalifornië geword, waar 'n groot aantal religieuse groepe hulle gevestig het. Houn Jiyu-Kennett het hier in 1971 die Boeddhistiese klooster Shasta Abbey gestig. Die meerderheid van die religieuse groepe in die omgewing glo dat die vulkaan die tuiste van bonatuurlike wesens is, terwyl ander beweer dat ruimtewesens die berg met vlieënde pierings kom besoek. Hierdie oortuigings het hulle oorsaak moontlik in 'n meteorologiese fenomeen – die kenmerkende wolkformasies oor die berg lyk dikwels soos vlieënde pierings.

Die digter Joaquin Miller (1837−1913), na wie dikwels as die Poet of the Sierras verwys word, het Mount Shasta op 'n heuglike manier beskryf: “Alleen soos God, en wit soos die wintermaan, verrys Mount Shasta onverwags en eensaam uit die hart van die groot swart woude van Noord-Kalifornië.”

  1. "visitcalifornia.com: Mount Shasta. Besoek op 11 April 2018". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Mei 2020. Besoek op 11 April 2018.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search