NG gemeente Namakwaland

Die gebou van die NG gemeente Namakwaland op Springbok in die Noord-Kaap staan as die Klipkerk bekend en is deur die toedoen van dr. W.P. Steenkamp, later 'n senator, opgerig.

Die NG gemeente Namakwaland is in 1850 as die 42ste gemeente in die Nederduitse Gereformeerde Kerk gestig op die nedersetting Bowesdorp, suid van Springbok, wat met die verskuiwing van Kamieskroon in 1923 aan die genade oorgelaat is en waar al dekades lank net enkele bouvalle oorgebly het. Hoewel die kern van die gemeente op die Noord-Kaapse dorp Springbok is, val die gemeente onder die Sinode van Wes-en-Suid-Kaapland en verleen hy sy naam aan die mees noordwestelike ring van dié Sinode wat ook die diamantmyndorp Oranjemund in Namibië ingesluit het tot dit in 2013 aan die NG Kerk in Namibië oorgedra is.

Die gemeente is die moedergemeente van die NG kerke in Namakwaland. Nadat die lidmaattalle op die myndorpe Nababeep en Aggeneys skerp afgeneem het sodat dié gemeentes nie meer hul eie leraar kon onderhou nie, het hul kerkraad ’n ooreenkomstig met die moedergemeente aangegaan ingevolge waarvan die predikant(e) van Namakwaland oor vir Simon van der Stel (Nababeep) en Aggeneys verantwoordelik is.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search