Naaldwoud

'n Naaldwoud naby Kijif, Oekraïne.
Kaart van gematigde naaldwoude.

Naaldwoude is woude in die Noordelike Halfrond waar naaldbome (afdeling Coniferophyta) die plantegroei oorheers. Naaldbome is oor die algemeen beter bestand teen koue as loofbosse en kom daarom nader aan die Noordpool en op hoër liggende berge voor as loofbosse.

Nog nader aan die Noordpool kan bome glad nie meer groei nie en bestaan die plantegroei, bekend as toendra, uit lae struike en geharde, kruidagtige gewasse. Behalwe die natuurlike naaldwoude word naaldbome ook op groot skaal in die Noordelike Halfrond en elders om ekonomiese redes aangeplant. Die hout self is baie bruikbaar as grondstof vir papier. Die noordelike of boreale naaldwoudgordel strek oor 'n afstand van ongeveer 13 000 km, van Alaska tot in Labrador en van Skandinawië oor die noorde van die Sowjetunie en Siberië tot by Kamtsjatka en word slegs onderbreek deur die Atlantiese- en die Stille Oseaan en enkele boomlose gebergtes soos die Oeralgebergte.

Die woord boreaal is afgelei van Boreas, die god van die noordewind. Die boreale naaldwoude toon baie ooreenkoms met die naaldwoude van die hoë berge in die Noordelike Halfrond. Die alpiene naaldwoude is egter nie so uitgestrek soos die boreale naaldwoude nie. Geen naaldwoude word in die Suidelike Halfrond aangetref nie. Een van die teorieë om dit te verklaar, is dat die landmassas in die Suidelike Halfrond relatief klein is en dat die see so 'n groot invloed op die klimaat uitoefen dat loofbosse tot op 'n hoë suiderbreedte kan voorkom, waarna dit direk in Antarktiese toendra oorgaan.

Die noordelike grens van die naaldwoude (en dus die verste noord wat enige bome aangetref word) is die Julie-isoterm van 10 °C, met ander woorde die lyn wat alle punte verbind waar die temperatuur gedurende 60 tot 70 dae per jaar minstens 10 °C is. Bo hierdie lyn kan bome nie groei nie. Die klimaat in die naaldwoudgordel is droog en koud; op sommige plekke is die maksimumreënval 500 mm per jaar en kan die temperatuur tot - 45 °C daal. Die grond is vir 'n groot deel van die jaar bevries, sodat die bome hul water van 'n groot diepte af moet kry. Hulle het gevolglik 'n diep wortelstelsel met baie vertakkings.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search