Natalie Cole

Natalie Cole
Natalie Cole tydens 'n konsert in 2007
Agtergrondinligting
GeboortenaamNatalie Maria Cole
Gebore6 Februarie 1950
Los Angeles, Kalifornië, Vlag van Verenigde State van Amerika Verenigde State
Sterf31 Desember 2015
Los Angeles
GenresR&B, Soul, Pop, Soft rock, Jazz, Quiet storm, Adult contemporary
Beroep(e)Sangeres
Liedjieskryfster
InstrumenteStem, klavier
Jare aktief1956–2015
EtiketteCapitol Records (1975–81)
Epic Records (1982–84)
Modern Records (1984–86)
EMI-Manhattan Records (1986–90)
Elektra Records (1991–2001)
Verve Records (2001–07)
DMI Records / Atco Records (2008–10)
AssosiasiesNat King Cole, The Independents
Webwerfnataliecole.com

Natalie Maria Cole (* 6 Februarie 1950 in Los Angeles; † 31 Desember 2015 aldaar) was 'n Amerikaanse sangeres, liedjieskryfster en aktrise wat teen die middel van die 1970's internasionale sukses met rhythm & blues-treffers soos This Will Be, Inseparable and Our Love behaal het.

Natalie Cole was die dogter van die befaamde jazz-sanger Nat King Cole (1919–1965) en het aanvanklik in kindersielkunde gestudeer. In 1972 het sy haar akademiese graad aan die Universiteit van Massachusetts behaal. Alhoewel sy onseker gevoel het oor 'n moontlike loopbaan in die musiekbedryf, het sy gedurende die somermaande 'n tydelike pos as sanger van 'n musiekgroep aanvaar en binnekort gereeld opgetree.

In 1974 het sy kennis gemaak met Chuck Jackson en Marvin Yancy, twee liedjieskrywers en platevervaardigers met wie sy begin saamwerk het. Danksy Jackson en Yancy se ondersteuning kon sy 'n platekontrak met Capitol Records onderteken. Vervolgens het Natalie Cole 'n reeks langspelers met rhythm & blues-gebaseerde titels vrygestel en reeds met haar debuutalbum Inseparable (1975) twee Grammy-pryse ingepalm, waaronder een as beste nuwe kunstenaar.

Haar tweede album, Natalie, het in die volgende jaar goudstatus behaal, terwyl sy met die enkelsnittreffer Sophisticated Lady nog 'n Grammy-prys verower het. Ook met haar volgende twee albums, Unpredictable (1977) en Thankful (1977), het sy groot sukses behaal. Albei langspelers het platinumstatus bereik.

Dwelmverslawing en 'n ernstige keelsiekte het Cole in die vroeë 1980's genoodsaak om haar musiekloopbaan tydelik te staak. Nadat sy die moeilikhede teen die einde van die dekade oorkom het, het sy van genre gewissel en omgeskakel na popmusiek met jazz-invloede. Haar terugkeer na die musiekbedryf het sy hoogtepunt in 1991 met die vrystelling van die dubbellangspeler Unforgettable... with Love bereik wat met Smile, The Very Thought of You en Mona Lisa sommige van haar pa se klassieke jazz-treffers bevat het. Vir die titellied is digitale opnametegnologie ingespan om 'n pa-en-dogter-duet te simuleer.

Natalie Cole in Mei 2013

Die album, wat naas sy kommersiële sukses ook deur kritici gunstig ontvang is, was Cole se eerste langspeler wat die nommer een-posisie op die trefferlyste behaal het. Dit is met drie Grammy-pryse bekroon.

Latere albums het Take a Look (1993), Snowfall on the Sahara (1999) en Ask a Woman Who Knows (2002) ingesluit. Met Still Unforgettable het sy in 2008 nog eens hulde aan haar pa se repertoire gebring. Vir dié album, wat as 'n versameling van romantiese standaardtreffers opgeneem is, is die Grammy-prys vir die beste tradisionele vokale poplangspeler in 2009 aan Cole toegeken.

In 2000 het Natalie Cole haar outobiografie Angel on My Shoulder, wat in samewerking met Digby Diehl ontstaan het, gepubliseer. Haar laaste lewensjare is vertroebel deur die afsterwe van geliefdes – haar suster Carole en haar ma Maria wat in die ouderdom van 89 aan kanker oorlede is. Natalie Cole het self aan nierversaking gely en drie keer per week dialise ontvang.[1]

Tydens die TV-program Larry King Live het sy moontlike orgaanskenkers om hulp gevra. Nadat haar niggie Jessica in 2009 tydens haar swangerskap in die ouderdom van 30 aan 'n beroerte dood is, het haar tant besluit dat Natalie Jessica se nier moes ontvang aangesien haar dogter as orgaanskenker geregistreer was.[2]

In 2015 het Natalie Cole se gesondheidstoestand versleg. Sy is op Nuwejaarsaand 2015 in die Cedars Sinai Mediese Sentrum in Los Angeles aan hartversaking oorlede. Sy word oorleef deur haar jonger tweelingsusters, Timolin en Casey Cole. Natalie het haar laaste rusplek in Forest Lawn Memorial Park in Glendale gevind.[3]

  1. "nataliecole.com – Biografie. Besoek op 1 Januarie 2016". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 November 2015. Besoek op 1 Januarie 2016.
  2. "nataliecole.com – Biografie. Besoek op 1 Januarie 2016". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 November 2015. Besoek op 1 Januarie 2016.
  3. "Found a Grave - Records of Deceased But Not Forgotten: Natalie Cole. Besoek op 17 Augustus 2017". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Oktober 2016. Besoek op 17 Augustus 2017.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search