Nebukadnesar II

Nabû-kudurri-uṣur
Koning van Babilon
Koning van Sumerië en Akkadië
Koning van die Heelal
'n Gravering met 'n koninklike inskripsie van Nebukadnesar II. Anton Nyström, 1901.[1]
Koning van die Nieu-Babiloniese Ryk
HeerskappyOmstreeks 605-562 v.C.
VoorgangerNabopolassar
OpvolgerAmel-Marduk
GeboreOmstreeks 634 v.C.
Uruk (?)
OorledeOmstreeks 562 v.C.
(71-72 jaar oud)
Babilon
EggenootAmitis van Medië
VaderNabopolassar

Nebukadnesar II[nota 1] (ook bekend as Nebukadrésar II;[2] Babiloniese wigskrif: , Nabû-kudurri-uṣur, "O god Nabu, bewaar my erfgenaam"; Bybelse Hebreeus: נְבוּכַדְנֶאצַּר) was die tweede koning van die Nieu-Babiloniese Ryk. Hy het regeer van sy vader, Nabopolassar, se dood in 605 v.C. tot met sy eie dood in 562 v.C. Hy is histories bekend as Nebukadnesar die Grote[3][4] en word algemeen beskou as die ryk se grootste monarg.[5][6][7]

Nebukadnesar is steeds bekend vir sy militêre veldtogte in die Levant, vir sy bouprojekte in sy hoofstad, Babilon, insluitende die Hangende Tuine van Babilon, en vir sy rol in die Joodse geskiedenis.[5] Hy het 43 jaar lank regeer, die langste in die Babiloniese dinastie. Teen die tyd van sy dood was hy een van die magtigste heersers in die wêreld.[6]

Hy is waarskynlik genoem na sy oupa met dieselfde naam of na Nebukadnesar I (bewind: omstreeks 1125-'04 v.C.), een van Babilonië se grootste antieke vegter-konings. Nebukadnesar II het reeds tydens sy vader se bewind naam gemaak deur leërs aan te voer in die Babiloniese verowering van die Assiriese Ryk. By die Slag van Karkemis in 605 v.C. het Nebukadnesar die Egiptiese leër van farao Necho II oortuigend verslaan en verseker dat die Nieu-Babiloniese Ryk die Nieu-Assiriese Ryk sou opvolg as die oorheersende mag in die antieke Nabye Ooste. Kort ná dié oorwinning het Nabopolassar gesterf en Nebukadnesar koning geword.

Ondanks sy suksesvolle militêre loopbaan tydens sy vader se bewind, het Nebukadnesar in sowat die eerste derde van sy eie bewind geen groot militêre prestasies behaal nie, maar wel 'n rampspoedige mislukking toe hy Egipte probeer inneem het. In dié tyd het sommige van Babilonië se vasals, veral in die Levant, begin om Babilon se mag in twyfel te trek omdat dit nie op die vlak van die Assiriese Ryk was nie. Die situasie het so ernstig geword dat mense in Babilonië self ongehoorsaam aan die koning begin word het. Sommige het selfs in opstand gekom teen sy heerskappy.

Hierna het Nebukadnesar beter sukses behaal. In die 580's v.C. was hy betrokke in 'n reeks militêre optredes in die Levant teen die vasalstate wat daar in opstand was, moontlik met die uiteindelike doel om die Egiptiese invloed in die streek aan bande te lê. In 587 v.C. het Nebukadnesar die Koninkryk Juda en sy hoofstad, Jerusalem, verwoes. In die verowering van Jerusalem is die stad se inwoners en mense van die omringende grondgebied gevange geneem en na Babilon gedeporteer. Hy was die Jode se grootste vyand tot op daardie punt. Die Bybelboek Jeremia skilder Nebukadnesar as 'n wrede vyand, maar ook as God se aangestelde heerser van die wêreld en 'n goddelike instrument om ongehoorsaamheid te straf.

Met die vernietiging van Jerusalem, die verowering van die rebelse Fenisiese stad Tirus en ander veldtogte in die Levant het Nebukadnesar die Nieu-Babiloniese Ryk se transformasie in die nuwe groot mag van die antieke Nabye Ooste voltooi.

Benewens vir sy militêre veldtogte word Nebukadnesar onthou as 'n groot bouer-koning. Die rykdom wat met sy oorloë versamel is, het hom in staat gestel om groot bouprojekte in Babilon en elders in Mesopotamië aan te pak. Die moderne beeld van Babilon is grootliks van die stad soos dit was ná Nebukadnesar se projekte. Hy het onder meer die stad se godsdiensgeboue herbou, die huidige paleis herstel en 'n nuwe paleis laat bou. Hy het ook die seremoniële middestad mooigemaak deur restourasiewerk aan die Prosessiestraat en Isjtarpoort. Omdat die meeste van Nebukadnesar se inskripsies handel oor sy bouprojekte en nie sy militêre suksesse nie, is hy histories lank beskou as 'n bouer eerder as 'n vegter.

  1. Anton Nyström, Allmän kulturhistoria eller det mänskliga lifvet i dess utveckling, bd 2 (1901)
  2. Asimov, I. (1968) The Near East, Boston: Houghton Mifflin Co., p. 62
  3. Wallis Budge 1884, p. 116.
  4. Sack 2004, p. 41.
  5. 5,0 5,1 Saggs 1998.
  6. 6,0 6,1 Mark 2018.
  7. Elayi 2018, p. 190.


Verwysingfout: <ref> tags exist for a group named "nota", but no corresponding <references group="nota"/> tag was found


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search