Nord-Pas-de-Calais

Nord-Pas-de-Calais

Départements Nord (59)
Pas-de-Calais (62)
Prefektuur Lille
Bevolking 4 026 000 inw.
(2004)
Bevolkingsdigtheid 324 inw./vk km
Oppervlakte 12 414 vk km
Arrondissemente 13
Kantons 156
Munisipaliteite 1 546
President van
Gewestelike Raad
Daniel Percheron (PS)

Nord-Pas-de-Calais (Afrikaans: "Noord en Seestraat-van-Calais") is die mees noordelike van Frankryk se 27 administratiewe geweste (régions) en bevat die départements Nord en Pas-de-Calais met 'n oppervlak van 12 414 vierkante kilometer en vier miljoen inwoners (of sowat sewe persent van die totale Franse bevolking). Die administratiewe hoofstad (prefektuur) is Lille. Die gewes is die tweede grootste metropolitaanse gebied in die land na Parys, en meer as 80 persent van sy bevolking woon in stedelike gebiede.

'n Uitsig oor Kaap Gris-Nez

Die gewes het 'n ryk kulturele erfenis as 'n vrugbare streek in die grensgebied van Frankryk en Vlaandere met welvarende ambagte en nywerhede, maar eeue lank is dit ook 'n omstrede gewes met 'n lang lys van oorloë en veldslae, wat van die antieke Galliese tydperk tot by die Tweede Wêreldoorlog strek.

Naas sy grys hemel en die kenmerkende aksent van sy bewoners het die meeste Franse die gebied dekades lank met steenkoolmyne en swaar nywerhede geassosieer. Nadat die myne in die tydperk tussen die 1960's en 1990's gesluit is en ook die tekstielnywerheid in 'n krisis beland het, is die gebied met die hoogste werkloosheidsyfers in die hele land geknel.

Teen die begin van die 21ste eeu beleef die gewes weer 'n ekonomiese opswaai as een van die mees dinamiese streke in Frankryk wat vanaf die vroeë 1990's meer regstreekse buitelandse beleggings gelok het as enige ander gewes buite die Groter-Parys-gebied.[1]

  1. Strauss, Delphine: Northern area stages comeback. In: Business locations in France. Financial Times Special Report. Financial Times Europe, 3 Oktober 2007

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search