Northrop Grumman B-2 Spirit

Northrop Grumman B-2 Spirit
'n Amerikaanse B-2 Spirit oor die Stille Oseaan in Mei 2006
Tipe Bomwerper
Vervaardiger Northrop Corporation
Northrop Grumman
Nooiensvlug 17 Julie 1989
Vrygestel 1 Januarie 1997
Status In diens
Hoofgebruiker Amerikaanse Lugmag
Vervaardig 1987–2000
Aantal gebou 21
Eenheidskoste VS$ 1,2 miljard

Die Northrop Grumman B-2 Spirit is 'n Amerikaanse strategiese bomwerper. Die publiek het op 22 November 1988 vir die eerste keer die rewolusionêre ontwerp gesien. Die vliegtuig is effektief 'n vlieënde vlerk en toon baie ooreenkomste met die Northrop YB-49 vlieënde vlerk van 1947. Dit is 'n strategiese bomwerper met 'n lang togafstand wat 'n bemanning van twee dra. Die vliegtuig se vermoë om teen alle hoogtes te kan vlieg met 'n uiters lae sigbaarheid vir radar maak dit 'n sluipvliegtuig (stealth) en gee dit die vermoë om die mees gesofistikeerde verdediging binne te dring en tot 16 kernwapens op sleutelteikens los te laat.

Die vliegtuig het sy nooiensvlug op 17 Julie 1989 voltooi. Die vliegtuig het 'n kleiner infrarooi, akoestiese, elektromagnetiese, visuele en radarprofiel. Dit maak dit moeilik vir die mees gesofistikeerde verdedigingstelsels om die vliegtuig te bespeur, te volg en aan te val. Baie van die tegnologie wat die vliegtuig sy sluipeienskap gee is geklassifiseer, van die tegnologie behels grafietharsmateriaal, radarabsorberende verf en die vlieënde vlerk-eienskap dra daartoe by.

As gevolg van die B-2 se kleiner profiel word dit nie vergesel deur ondersteuningsvliegtuie soos frekwensie steuring, teen-radar of ander vegvliegtuie nie. Dit maak dit baie goedkoper en met sy groot bomrak doen dit die werk van vele kleiner vliegtuie. Die B-2 het 'n groot voordeel bo konvensionele bomwerpers. Met sy lae sigbaarheid het dit 'n groot voordeel teen hoë hoogtes want die vliegtuig se geheime sensors is baie meer effektief. 'n Amerikaanse studie toon dat twee B-2's die werk van 75 konvensionele vliegtuie kan doen. Dit beteken dat slegs vier bemanningslede se lewens in gevaar is teenoor die 132 indien konvensionele vliegtuie gebruik sou word.

Die B-2 kan kern- sowel as konvensionele wapens dra. Sonder hervulling het dit 'n togafstand van 9 654 km.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search