Perspektief

Trappe in twee-punt perspektief

Perspektief is die grafiese voorstelling van driedimensionele voorwerpe en diepteverhoudings op 'n tweedimensionele (plat) vlak. Hoewel elke voorwerp 'n sekere ruimtelike uitgestrektheid (of diepte) besit, is dit vir die mens onmoontlik om die diepte-omvang daarvan uit 'n enkele waarnemingspunt te sien. Die feit dat diepte hoegenaamd waargeneem kan word, is gedeeltelik daaraan toe te skryf dat 'n mens twee oë het, wat dus meebring dat enige voorwerp in werklikheid vanuit twee waarnemingspunte gesien word.

As 'n mens byvoorbeeld twee geboue sien waarvan die een gebou gedeeltelik deur die ander een verberg word, weet 'n mens uit ervaring dat die een gebou voor die ander een staan. Net so weet 'n mens dat voorwerpe kleiner lyk hoe verder weg hulle geleë is. Die kunstenaar wat diepte op 'n plat vlak moet suggereer, maak van bogenoemde gegewens gebruik. Indien hy nie van die beginsels gebruik maak nie, sal hy nie daarin slaag om op die plat tekenvlak die illusie van diepte te wek nie.

Die mens het eers betreklik laat volledige insig verkry in die elemente wat op perspektief van toepassing is. In die eerste plek gaan dit oor die vorm, en in die besonder die grootteverhouding, van die voorwerp wat afgebeeld word. By normale waarneming word 'n beeld van die ruimte voor die oog op die retina (netvlies) van die oog geprojekteer. Die ruimtelike voorstelling van 'n skildery kan ook slegs natuurlik vertoon indien die skildery volgens dieselfde projeksiemetode gedoen word as die waarmee die menslike oog waarneem.

Hierdie projeksie word sentrale projeksie genoem en die perspektief wat so gevorm word, staan bekend as sentrale perspektief. Dit vereis dat 'n vaste tekenvlak en 'n vaste waarnemingspunt gekies word. Uit enige ander posisie bekyk, sal die voorstelling 'n foutiewe ruimtelike indruk gee. 'n Belangrike element van die sentrale projeksie is die horison, 'n horisontale lyn wat op ooghoogte (gewoonlik 1,5 m bo die grond) lê. As die horison uitermate hoog is, word daar van voëlperspektief gepraat; as dit uitermate laag lê, word daar van laevlakperspektief (wurmperspektief) gepraat.

Die opmerklikste kenmerk van die sentrale perspektief is dat lyne wat in werklikheid ewewydig loop, op die illustrasie by een punt byeenkom. Daardie punt staan bekend as die verdwynpunt, en elke rigting in die ruimte het sy eie verdwynpunt. Ook in die fotografie is die sentrale projeksie van toepassing. Die voorwerpe word hier deur die lens op die film geprojekteer. Afgesien van die vorm, is ook die kleure van belang by die voorstelling van diepte.

Deur die gebruik van skaduwee kan 'n mens die vorm van 'n voorwerp sowel as die rigting van die ligstrale weergee. Voorwerpe wat baie ver lê, het 'n blouerige skynsel en die skerpte van die omlynings vervaag ietwat. Hierdie verskynsel het Leonardo da Vinci atmosferiese perspektief genoem en dit word toegepas deur landskapskilders ten einde groot afstand te suggereer. Uiteindelik het elemente buite die grense van die afbeelding 'n uitwerking op die dieptevoorstelling. Die beligting van en die raam om die skildery het byvoorbeeld 'n besliste uitwerking op die ruimtelike indruk wat dit wek. Dit is dus duidelik dat 'n mens in 'n mate met 'n optiese illusie te make het waarby 'n groot aantal elemente betrokke is.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search