Pesach

Gedekte Sedertafel met haggada-boeke vir Sederaand op Pesach
Sederbord vir die begin van Pesach (Sederaand) met Maror, Seroa, Charosset, Chaseret, Karpas, Beitsá
Darmstadtse Haggada-boek uit die 15de eeu, volgens die Asjkenasiese tradisie
Drie soorte maror: gerasperde peperwortel, bindslaai en 'n ganse peperwortel
Moses bevry die Israeliete uit slawerny in Egipte, tekening in 1907

Pesach of Pasga (Hebreeus: פֶּסַח, péssag, ; Aramees: פַּסְחָא, pas’ga; Grieks: πάσχα, pás’ga; letterlik: "huppel", "spring"; figuurlik: "oorslaan", "weglaat"), ook lentefees, vryheidsfees of matsafees, is een van die belangrikste Joodse feesvierings. Dit herdenk die uittog uit Egipte onder die leierskap van Moses en die bevryding van die Israeliete uit slawerny, waarvan die Hebreeuse Bybel (Sjemot/Eksodus) vertel. Hierdie gebeure is sentraal in die Joodse etos en die oorvertelling (haggada) van hierdie gebeurtenis verbind elke nuwe generasie van Jode met hul sentrale bevrydingservaring.

Die Paasfees word deur Jode in die week van 15 tot 21, in die Joodse diaspora tot 22 Nisan, volgens die Joodse kalender gevier. Dit is 'n familiefees met verskillende rites soos die Seder en die weeklange nuttiging van matsot. Daarom word dit ook "Fees van ongesuurde brode" genoem. Saam met Sjavuot en Soekkot is Pesach een van die drie tradisionele Bedevaartsfeeste (שלוש רגלים, sjalosj regalim). Tydens die bestaan van die Tweede Tempel het die Jode na Jerusalem getrek om daar offers te bring. Op Pesach volg 49 dae se Omertelling en op die 50ste dag, dus sewe weke en een dag na Pesach, word Sjavuot gevier.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search