Piazza di Spagna

Administratief val die Piazza di Spagna onder die Romeinse distrik Rione IV - Campo Marzio (Marsveld)
Piazza di Spagna: Spaanse trappe en die fontein Fontana della Barcaccia, tussen 1627 en 1629 ontwerp en opgerig deur Pietro Bernini en sy befaamde seun Gianlorenzo, teen die voorgrond. Die fontein word gevoed met water uit die antieke akwaduk Aqua Virgo (Acqua Vergine in Italiaans). Sy ontwerp versinnebeeld 'n halfvergane boot en herinner volgens historiese oorlewerings aan 'n verwoestende Tibervloed gedurende die Kersfees van 1598 waartydens 'n boot vanuit die rivier na die plein gespoel is. Die meer waarskynlike verklaring is dat die waterdruk in die buurt so laag was dat die bron benede straatvlak gebou moes word. Die bootsontwerp was sodoende 'n geniale oplossing
Babington's Tea Rooms & Restaurant - sedert 1893 nie net by Engelse besoekers gewild nie
Künstler im Cafe Greco in Rom
Skildery deur Ludwig Passini (1856). Waterverf op papier. Hamburger Kunsthalle
Uitsig vanuit die Pincioheuwel oor die nagtelike Rome en die Vatikaanstad met die Sint Pieterskerk
Die panoramiese uitsig bedags (hier in 'n suidelike rigting)

Piazza di Spagna (Spanjeplein) is een van die Italiaanse hoofstad Rome se bekendste pleine, geleë aan die voet van die Pincio-heuwel en die befaamde Spaanse trappe wat die Tiber-vloedvlakte met die heuweltop verbind, en vernoem na die Palazzo di Spagna in Piazza di Spagna 50, sedert 1647 setel van die Spaanse ambassade by die Heilige Stoel en die Malteser Ridderorde. Eeue lank is eksterritoriale regte op die plein aan die Koninkryk Spanje verskaf; soms is Italianers, wat die plein betree het, tot diens in die Spaanse leër gedwing.

Die grond rondom die klooster Trinità dei Monti (Frans: Couvent de la Trinité-des-Monts) op die heuweltop was daarenteen in Franse besit; hieruit het Franse burgers hul reg afgelei om die plein te eniger tyd te betree op hul pad na die klooster wat deur die Orde van die Minieme gestig is. Die 16de eeuse kloosterkerk in die laat Frans-Gotiese styl met sy kenmerkende rooskleurige dubbeltoring-fasade en die nabygeleë klassisistiese Pincio-tuine en -terras (ontwerp deur die Italiaanse argitek en stadsbeplanner Giuseppe Valadier) bied indrukwekkende uitsigte oor Rome wat tot die Vatikaanstad met die Sint Pieterskerk en die Gianicolo-heuwel suidoos daarvan strek.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search