Pion (skaak)

Pion in die standaard Staunton-styl

Die pion (♙♟) is die swakste en mees talryke stuk in die bordspel skaak. Dit verteenwoordig die voetsoldate en meer spesifiek die gewapende piekdraers. Elke speler begin die spel met agt pionne, een vir elke blokkie in die tweede ry van die speler af. In Algebraïese notasie begin die wit pionne op a2, b2, c2, …, h2 en die swart pionne op a7, b7, c7, …, h7.

Pionne word onderskei volgens die gelid (kolom) waarin hulle staan. 'n Mens praat byvoorbeeld van "Wit se f-pion" of "Swart se b-pion" of, minder algemeen, "Wit se koningsloperpion" of "Swart se damesruiterpion". Daar word algemeen na 'n toringpion verwys, waarmee 'n pion in die a- of h-gelid bedoel word, 'n ruiterspion (in die b- of g-gelid), 'n loperpion (in die c- of f-gelid), 'n damepion (in die d-gelid), 'n koningspion (in die e-gelid) en 'n sentrale pion (in die d- of e-gelid).

Die pion, wat die mees basiese stuk op die skaakbord is, is afkomstig van die oudste weergawe van skaak, sjatoeranga, wat in Indië gespeel is. Dit is teenwoordig in alle beduidende weergawes van die spel soos shogi en ander nasionale variante. In sjatoeranga en skaak se direkte voorganger wat daaruit ontstaan het, sjatrandj, het die stuk reeds soos vandag een blokkie vorentoe geskuif en skuins na links of regs gebuit. Die stuk was 'n metafoor vir die gewone voetsoldate teenoor die offisierstukke. Die vermoë om tydens die eerste skuif twee blokkie ver te beweeg en die gepaardgaande en passant skuif is eers in die 15de eeu in Europa bekom. Die reël vir promosie as die laaste gelid bereik word het ook oor die spel se geskiedenis heelwat verander.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search